Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Hier is die essensiële inligting vir die Meiringspoort-marathon, wat 'n unieke ervaring beloof. As jy beplan om deel te neem, moet jy bewus wees van belangrike reëlings.
Ontvang inligting oor parkering, vervoer, en die registrasieproses.
FOTOGALERY: Meiringspoort-marathon 'n onvergeetlike ervaring
Daar is ook spesifieke aanwysings vir die beginpunte van die 12,5 km en 21,1 km roetes. Maak seker jy is voorbereid op 'n onvergeetlike wedloop deur hierdie sleutelbesonderhede te ken.
Hier is die belangrikste inligting wat jy moet weet vir die marathon:
Parkering
As gevolg van verkeersprobleme in die middel van De Rust sal sekere paaie rondom die venue op wedloopdag, Saterdag 14 Oktober, gesluit wees. Daar is nie meer parkeerplek agter die Ou Kerksaal nie. Nuwe parkering sal op die dorp se ou rugbyveld beskikbaar wees. Hierdie rugbyveld se parkering is die eerste straat regs na die Caltex Garage as jy vanaf Oudtshoorn se kant af kom. Daar sal duidelike aanwysings, asook voldoende sekuriteit wees. Hierdie reëling rondom parkering geld slegs vir Saterdag.
Vervoer
Daar sal ‘n gratis pendeltuig elke 10 minute vanaf die rugbyveld tot by die venue wees. Dieselfde pendeltuig sal na afloop van die wedloop beskikbaar wees.
Vervoer sal van 04:45 tot 05:30 wees.
Vervoer vir die 12,5 km sal vanaf Le Rouxstraat voor die kerk vertrek en vir die 21,1 km is die vertrekpunt in die hoofstraat.
Wedloopnommer-bippies is kleurgekodeer en 'n 21,1 km-bib sal nie toegelaat word op die 12,5 km-vervoer nie en andersom.
Registrasieproses
Registrasie vind Vrydag 13 Oktober 11:00 tot 21:00 by die NG Kerkterrein in De Rust plaas en dan weer Saterdag 14 Oktober vanaf 04:30 tot 05:30 op dieselfde terrein plaas.
Wedloopnommer-bippies is voor- en agterop gemerk om jou korrekte posisionering tydens die marathon te verseker. Daar is 'n tydberekeningskyfie aan die bippie geheg wat voorop gedra word. Jou koevert sal 'n gepersonaliseerde, kleurgekodeerde lisensienommer bevat met die tydberekeningskyfie aangeheg.
Daar sal agt, duidelik gemerkte, toue by registrasie wees – jou van bepaal jou tou. Geen koevert sal verskaf word indien daar nie 'n ID gewys word nie.
Beginpunt
12,5 km
Die begintyd is om 07:00. Die versamelpunt sal in die rusarea by die waterval wees. Die wedren begin by die versamelpunt aan die kant van die pad. Van daar sal deelnemer in die regterkantste baan in beweeg (na aankomende verkeer se kant toe).
21,1 km
Atlete wat aan die 21,1 km deelneem spring om 07:15 weg. Die 21,1 km sal ook in die versamelarea op die kant van die pad wees. Deelnemers sal nie op die pad toegelaat word voor die wedloop begin nie. Die pad moet tot dan vir verkeer oop bly. Bly aan die regterkant van die pad. Dit is 'n vereiste deur verkeersowerhede dat een baan te alle tye oop sal bly vir verkeer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’