Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Die Wes-Kaapse Vereniging vir Persone met Gestremdhede (APD) het Maandag 'n bewusmakings-veldtog genaamd 'Walk in my Wheels' gehou om die uitdagings waarmee persone met gestremdhede daagliks gekonfronteer word, uit te wys.
Pastoor Christo Nel, stasiebestuurder van Heartbeat FM, is deur Tamzyn Boonzaaier, gemeenskapsontwikkelingsbeampte by APD, uitgenooi om deel te vorm van hierdié veldtog waar hy vier ure in 'n rolstoel moes deurbring en daaglikse take uitvoer.
Nel was behoorlik ontnugter deur sommige uitdagings wat hy moes deurmaak om van die aktiwiteite te verrig in 'n omgewing wat nie rolstoelvriendelik is nie.
Dit was duidelik dat van die daaglikse take onuitvoerbaar sou wees indien hy nie hulp ontvang het nie; soos om veilig van 'n sypaadjie af te kom en dan 'n straat met 'n verkeerseiland oor te steek.
Die Walk in my Wheels-veldtog is geïnisieer omdat daar volgens APD 'n groeiende behoefte vir rolstoeltoeganklike areas is en hulle sake-eienaars en werkgewers die geleentheid wil gee om hul perseel vanuit 'n ander oogpunt waar te neem. APD moedig sake-eienaars en werkgewers aan om aanpassings te maak vir kliënte en werknemers wat met 'n rolstoel beweeg.
Nel het tydens sy vier ure in die rystoel beklemtoon dat daar geweldig baie uitdagings en hindernisse in winkels en werkplekke vir persone met gestremdhede is.
"Dit was onmoontlik vir my om 'n badkamer te gebruik en ek sou myself definitief in 'n verleentheid geplaas het indien ek sou probeer."
Van Links is Christo Nel, stasiebestuurder van Heartbeat FM, Sonia Wahl, joernalis van Oudtshoorn Courant en Tamzyn Boonzaaier,
gemeenskapsontwikkelingsbeampte by APD.
Dit was duidelik dat Nel baie emosioneel was en het hy dankbaar vertel dat hy homself net kan indink wat iemand, wat aan 'n rystoel vasgekluister is moet deurmaak wanneer daar geen geriewe is om jouself te verlig nie.
Aan die einde van die vier ure het Oudtshoorn Courant 'n onderhoud in die Heartbeart FM klankstudio met Boonzaaier en Nel gevoer om die dag se uitdagings te bespreek. Nel het vertel dat hy soms verneder gevoel het wanneer mense hom vermy het en selfs aangestaar het. Wanneer hy verduidelik hoe moeilik dit is om items van 'n winkelrak te verwyder en dan te betaal, sê hy dadelik, "dit is ook 'n risiko, want waar bêre jy jou beursie."
Nel het aan die einde van die dag gesê dat indien hy nou gestremd sou raak hy baie veranderings sal moet aanbring. "Selfs om op vakansie te gaan sal 'n uitdaging wees, die rolstoel alleen neem soveel plek op."
Nel beklemtoon dat dit nie net die fisiese veranderings is wat hy sal moet aanbring nie, maar dat hy ook aan sy emosionele welstand sal moet werk indien so iets met hom sou gebeur.
VIDEO -'Walk in my Wheels' bewusmakingsveldtog ( Video: Heartbeat Tv & Oudtshoorn Courant).
Pastoor Christo Nel, stasiebestuurder van Heartbeat FM, besig met inkopies.
Pastoor Christo Nel, stasiebestuurder van Heartbeat FM, besig om in sy rolstoel na 'n winkel te gaan. Foto's: Sonia Wahl
Vorige artikel: Walk in my wheels-veldtog
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'