OUDTSHOORN NUUS - Die waarde van 'n vrou kan nie aan geld gemeet word nie, soos Spreuke 31:10 sê: "'n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene. Wie sal 'n deugsame vrou vind? Haar waarde is ver bo korale!"
Ansa de Jager van die Oudtshoorn-diereherberg is só 'n vrou. Sy gee daagliks, somtyds onder druk omstandighede, onbaatsugtig liefde vir elke dier wat sy by die diereherberg inneem.
Hierdie uitsonderlike vrou het weens haar onblusbare passie vir diere en dierewelsyn die stap geneem om in 2021 die hekke oop te maak van die diereherberg. Sedertdien koester sy hierdie passie van haar en het sy tans 63 honde waarna sy en haar getroue span daagliks omsien.
Sy is 'n ma van een dogter, Johanné, en is gebore en getoë in Oudtshoorn. Ansa het skoolgegaan by Laerskool Suid in Oudtshoorn en haar matriek voltooi by die destydse Hoërskool CJ Langenhoven (nou Langenhoven Gimnasium). "Ek het op 'n plaas grootgeword en van kindsbeen af het ek 'n liefde vir diere ontwikkel."
Vir haar speel diere 'n belangrike rol in haar lewe. "Dit is my passie, diere gee mens onvoorwaardelike liefde en ek kan nie help om elke hawelose dier te wil help nie, maar dit is nie altyd moontlik nie. Omdat ons as 'n nie-winsgewende organisasie (NWO) funk-sioneer is ons heeltemal afhanklik van donasies, asook om uit ons eie sakke voorsiening te maak aan behoeftes."
Buiten haar daaglikse werk by die diereherberg werk sy in versekering by Sanlam vir Santam.
"Ek sien die herberg as 'n voltydse werk en sien uit dat ons van krag tot krag sal groei om sodoende te kan toesien dat soveel moontlike hawelose diere liefdevolle huise vind."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’