ZOAR NUUS - 'n Vyfjarige seuntjie het gister, 23 Februarie, in die rioolwatersuiweringsdam in die Braaklaagte-area in Zoar geval en verdrink.
Volgens 'n verklaring op die Kannaland-munisipaliteit se Facebook-blad het die seuntjie, Rushian Roodtman, na bewering saam met vriende by die munisipale afvalwatersuiweringswerke gaan stap.
Volgens sy ma, Maria Roodtman, het hy sy skape wat daar wei soos gewoonlik gaan haal om hulle in die kraal te sit.
“Rushian en van sy vriende het soos gewoonlik verby die oop riooldam geloop. Rushian moes gegly het en in die dam beland het,” vertel sy.
Lede van die Ladismith-polisie is na die toneel ontbied, maar volgens die familie, wou die polisie nie hê persone moes ingaan om die seuntjie se liggaam uit te kry nie.
“Hulle het gesê die rou rioolwater hou 'n gesondheidsrisiko in.”
Die familie vertel aan die Oudtshoorn Courant dat sowat agt mans wel verby die polisie gestorm het om Rushian uit te haal. Sy liggaam is ongeveer 19:00 gekry.
Rushian Roodtman (5)
Volgens Jeneva Esquire,'n inwoner van Zoar, het die inwoners al herhaaldelik gevra dat die dam omhein word. Met die aankoms van die koerant was lede van die Kannaland Independant Party by die familie om hul eer te betoon en ook 'n ruiker aan die familie te oorhandig.
In 'n verklaring wat die Kannalandse munisipaliteit uitgereik het noem hulle dat die behandelingswerke oor etlike jare gevandaliseer is, met bykans 100% van die omheining wat gesteel is.
“Kannaland-munisipaliteit betoon ons medelye aan die moeder en gesin vir die groot verlies. Die behandelingswerke is oor etlike jare gevandaliseer, met byna 100% van die heining wat gesteel is. Die munisipaliteit is ingelig dat lede van die publiek op die toneel van die verdrinking ingestorm het terwyl die SAPD en munisipale wetstoepassers hulle probeer keer het om in te gaan weens die uiterste veiligheids- en gesondheidsrisiko wanneer hulle aan onbehandelde rou afvalwater blootgestel word.”
Rushian Roodtman (5) se ma Maria (regs) saam met familie.
'Ons bring jou die nuutste Zoar, Klein Karoo nuus'