LADISMITH NUUS - 'n Vyfjarige seun het verlede Maandag, in die rioolsuiweringswerke in Zoar verdrink.
Volgens Rushian Roodtman se ma, Maria, wei Rushian se skape daar en het hy en sy vriende die skape gaan haal om kraal toe neem, toe hy gegly en verdrink het.
"Die voorval het so na 16:00 die middag plaasgevind," vertel sy.
Lede van die Ladismith-polisie is ontbied, maar volgens die familie wou die polisie nie hê mense moes ingaan om Rushian te help nie omdat die rou rioolwater 'n gesondheidsrisiko inhou.
Sowat agt mans het wel verby die polisie gestorm om die kind te probeer help.
"Sy liggaam is omtrent 19:00 gekry."
Jeremy Julies, een van die mans wat Roodtman se liggaam uit die dam gehaal het, het gesê hulle het dit gedoen omdat hulle nie kans gesien het om "die kind net daar te los nie".
"Ons het 'n ry gevorm deur bymekaar in te haak. So het ons maar met ons voete in die dam gevoel tot een van ons die liggaam gekry het. Ons het hom uitgehaal, ons kon hom mos nie daar laat lê totdat duikers kom nie," het Julies gesê.
Rushian Roodtman (5) tweede van links.
Volgens Jeneva Esquire van Zoar, het die inwoners al herhaaldelik gevra dat die dam omhein word. Met die aankoms van Oudtshoorn Courant was lede van die Kannaland Independent Party by die familie om hul eer te betoon en ook 'n ruiker aan die familie te oorhandig.
Die Kannaland-munisipaliteit het in 'n Facebook-verklaring hul medelye aan die familie betoon.
"Die behandelingswerke is oor etlike jare gevandaliseer, met byna 100 % van die heining wat gesteel is. Die munisipaliteit is ingelig dat lede van die publiek op die toneel van die verdrinking ingestorm het terwyl die polisie en munisipale wetstoepassers hulle probeer keer het om in te gaan. Verskeie mans het in die riooldam gespring om die jong seun te gaan uithaal sonder behoorlike beskermende klere en hulself moontlik aan ernstige gesondheidsrisiko's blootgestel," lui die verklaring.
Jeremy Julies was een van agt mans wat Rushian Rootman se liggaam uit die riooldam uitgehaal het.
Rushian Roodtman se ma, Maria (regs), saam met familie.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'