OUDTSHOORN NUUS - "Ek het die vuur met my hemp probeer smoor, maar dit het niks gehelp nie, toe brand die kar."
Dit was die woorde van Jason Julies Sondagaand op die toneel in Parkweg waar sy Volkswagen Jetta uitgebrand het. Volgens hom was hy en drie volwassenes en 'n kind op pad hospitaal toe om iemand te besoek toe hy iets ruik wat brand.
"Ek was tussen karre in Voortrekkerweg toe ek iets ruik en rook by die dashboard begin uitkom."
Hy het in Parkweg ingedraai, dadelik gestop en die motor se battery ontkoppel, maar die drade in die paneelbord was reeds aan die brand.
Julies het toe sy hemp uitgetrek en die vuur probeer smoor. Dit het egter niks gehelp nie en volgens hom was die motor se binnekant oomblikke later in vlamme gehul. Hy en sy passasiers het hulpeloos gestaan en toekyk hoe die motor uitbrand.
Die brandweer het die vuur geblus, maar die motor was reeds heeltemal verwoes.
Niemand is tydens die voorval beseer nie.
Die uitgebrande wrak van die Jetta nadat die vuur geblus is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'