OUDTSHOORN NUUS - Die vyf maande oue Zalia Labuschagne van Oudtshoorn, wat die afgelope week vir haar lewe geveg het nadat sy met chroniese neonatale sepsis gediagnoseer is, is Sondag uit die George-hospitaal ontslaan.
Sy is tans op medikasie wat hopelik die toestand onder beheer sal hou.
Intussen is haar familie baie dankbaar sy is by die huis, asook vir almal se gebede wat haar deurgedra het.
Zalia is op 31 Januarie in die Oudtshoorn-hospitaal gebore ná 'n traumatiese bevalling wat haar ma, Carina, moes deurmaak.
Reeds die dag ná sy ontslaan is, het Carina opgemerk dat haar dogtertjie sukkel om asem te haal, en sy het haar teruggeneem hospitaal toe.
Sedertdien is die gesin gereeld daar in en uit.
Volgens Carina het die dokters aanvank-lik vermoed dat Zalia aan respiratoriese sinsitiale virus (RSV) ly. Sy is met 'n asem-halingsmonitor toegerus wat die alarm gee wanneer sy ophou asemhaal.
"Dit het verskeie kere gebeur. Dan moes ons haar op haar sy draai en liggies in haar mond in blaas. As dit nie gewerk het nie, het ons haar dadelik hospitaal toe geneem," sê Carina.
Zalia se toestand het voorverlede naweek weer versleg, en sy is Sondag 28 Junie na die Oudtshoorn-hospitaal geneem. Sy is daarna na die George-hospitaal oorgeplaas, waar sy spesialisbehandeling ontvang het.
Daar is sy met chroniese neonatale sepsis gediagnoseer. Dié toestand ontstaan wanneer die liggaam se reaksie op 'n infeksie tot wydverspreide inflammasie lei, wat ernstige komplikasies, insluitende orgaanversaking, kan veroorsaak. Hoewel die meeste babas hierdie toestand ná die eerste maand ontgroei, het Zalia nie, omdat haar immuunstelsel, volgens haar ma, nie behoorlik funksioneer nie.
Die gesin doen intussen 'n beroep op die gemeenskap om hulp. Omdat Zalia se swelling veroorsaak dat haar gewone klere nie meer pas nie, benodig sy tans veral babaklere in groottes ses tot 12 maande, asook doeke.
- Indien jy 'n bydrae wil maak, skakel Xaviera von Molendorff by 072 446 1854 of Louise Mouton by 064 145 4457. Skenkings kan ook by die Oudtshoorn Courant-kantoor in Voortrekkerweg afgegee word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’