DE RUST NUUS - Leerders van De Rust Sekondêr het hul sertifikate as junior kommissarisse as deel van die junior kommissarisse en jeugforum-projek ontvang.
Die SAPD Junior Kommissarisprojek is 'n jeugmisdaadvoorkomingsinisiatief wat deur die SAPD bestuur word.
Die projek bemagtig leerders om as veiligheidsambassadeurs op te tree, skoolgeweld aan te spreek en as 'n belangrike skakel tussen wetstoepassings-owerhede, plaaslike skole en gemeenskappe te dien deur eweknie-tot-eweknie-ondersteuning en samewerking te bevorder.
Hierdie leerders speel 'n belangrike rol in die bevordering van veiligheid, leierskap en positiewe waardes by die skool en in die gemeenskap. Haylene Koorts, Jochelle Plaatjies, Lorenzo Adams en Tyron Booysen het hul sertifikate van ao. Maria Compion, ao. Willem Espach en die voorsitter van De Rust-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), John Manies, ontvang.
Hoe die projek werk
Skole en plaaslike polisiegebiede bied debatte en opstelkompetisies aan. Leerders word vervolgens gekies om range te beklee wat dié van die SAPD-leierskap weerspieël, soos junior stasiebevelvoerder, junior bevelvoerder: sigbare polisiëring en junior ondersteuningsbevelvoerder.
Hierdie jong kommissarisse bevorder veiligheid in skole, help met die opstel van veiligheidsplanne, ondersteun koördineerders van maatskaplike misdaad-voorkomingsprogramme en lei veldtogte teen afknouery en dwelmmisbruik.
Die program strek vanaf plaaslike polisievlak tot op distriks-, provinsiale en nasionale vlak, waar junior kommissarisse ook in leierskapsrolle dien.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’