OUDTSHOORN NUUS - "Spazawinkels in woonbuurte is tot groot voordeel vir gemeenskappe omdat dit tot laat oopbly en mense taxigeld spaar om na groot winkels te reis. En om dié winkels te besteel, straf jy eintlik jou eie mense."
So het streeklanddros Daniël Boks Vrydag gesê toe hy 'n man van Blomnek, De Rust, aan winkeldiefstal skuldig bevind het en vyf jaar gevangenisstraf opgelê het.
Selwyn Jordaan (31) het skuldig gepleit en sê in 'n pleitverduideliking dat die geld in 'n plastieksakkie op die toonbank van 'n uitlander se winkel gelê het.
Daar was toe niemand in sig nie.
Jordaan het aanvanklik tereggestaan op aanklag van roof met verswarende omstandighede deurdat hy glo die winkeleienaar met 'n mes gedreig het.
Volgens die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, werk die winkeleienaars hard om 'n bestaan te maak en word hulle dikwels helder oordag aangerand en beroof.
"Die klaer, wat glo nie kan lees of skryf nie, is baie ongelukkig omdat hulle ook deur moeilike tye gaan," het Arnolds gesê.
Sy het die hof vir 'n vonnis van ten minste ses jaar gevangenisstraf gevra.
Jordaan se regsverteenwoordiger, Cindy Murray-Smith, het toegegee dat diefstal en inbrake by winkeltjies gemeenskappe moedeloos het. Die beskuldigde besef volgens haar die feit dat hy gelukkig is en aan 'n mindere klagte skuldig bevind is.
Hy het egter agt vorige veroordelings waarvan twee relevante oneerlikheidsmisdade.
Sy het die hof vir 'n opgeskorte vonnis gevra omdat Jordaan langer as 'n jaar in aanhouding was.
Streeklanddros Daniël Boks het egter met vonnisoplegging gesê dat 'n opgeskorte vonnis onvanpas sal wees.
"Die beskuldigde moet 'n vonnis opgelê word wat hom en andere sal afskrik. Hy is ook nie 'n eerste oortreder nie en die misdaad is gepleeg slegs vier maande nadat hy vrygelaat is." Dit dui daarop dat vorige vonnisse nie die gewenste uitwerking gehad het nie.
"Die gemeenskap trek peil op die howe om gepaste vonnisse op te lê sodat hulle nie nodig het om die reg in eie hande te neem nie."
Hy het in ag geneem dat Jordaan skuldig gepleit het en ook die tydperk wat hy in aanhouding was van sy vonnis afgetrek.
Jordaan is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan twee jaar voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is. Hy is onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'