OUDTSHOORN NUUS - Die vrou van Dysselsdorp wat aan die begin van die jaar saam met haar seun, deur die kind se pa aan die brand gesteek is, is verlede week in die Kaap oorlede.
Gert Malgas het in Januarie vir 'n borgtogaansoek verskyn op twee aanklagte van poging tot moord nadat hy na bewering kookolie oor Jospehine Jacobs en haar seun, Gerano (7) gegooi het en hulle aan die brand gesteek het.
Een klag verander nou na moord.
Hy is borgtog in die Oudtshoorn-landdroshof geweier en sal weer op 9 Februarie verskyn.
Volgens Amanda Afrika, 'n familielid van Josephine en Gerano, is Josephine Saterdag in die vroeë oggendure dood.
"Dit het aanvanklik goed gegaan met haar.
"Ek studeer in die Kaap en het so gereeld moontlik by haar gaan kuier.
"Sy het nog vir my gesê sy gee nie om hoe lank sy lê nie sy wil net graag gesond word."
Die huis waar Josephine en Gerano aan die brand gesteek is.
Afrika sê Josephine het drie operasies ondergaan waar dokters van die dooie vel en vleis moes verwyder.
"Sy het nie so baie brandwonde soos Gerano gehad nie. Meestal op haar lyf, bene en onder haar voete.
"Daar was wonde op haar gesig ook, maar dit het vinnig gesond geword.
"Met die operasies het sy baie bloed verloor en het die dokters gereeld bloedoortappings gedoen.
"Sy was ook aan 'n ventilator gekoppel en kon nie op haar eie asem haal nie.
"Sy is ook op antibiotika geplaas, maar weens 'n infeksie wat sy opgedoen het kon haar liggaam nie meer nie.
"Haar hart het verswak en haar niere het ook ingegee.
"Die dokters het werklik alles probeer en die beste behandeling moontlik gegee, maar sy kon nie meer baklei nie."
Volgens Amanda gaan dit beter met Gerano.
"Hy is 'n vegtertjie. Hy het wel 60% brandwonde oor sy hele lyfie opgedoen, maar dit lyk of dit beter gaan met hom. Hy baklei hard om gesond te word."
Die Oudtshoorn Courant het vroeër berig dat die voorval voor Josephine se oudste dogter, Patricia Jacobs (16) en middelste seun van 12 gebeur het.
"Ek het die aand van my vakansiewerk af huis toe gekom en Gert het gevra waar is sy kos.
"Ek het vir hom gesê my ma het nie kos gemaak nie. Ek het daarna gaan lê.
"My 12-jarige boetie het by my op die bed kom lê.
"My ma en Gerano het in die ander kamer op 'n bed gelê.
"Gert het opgestaan en geskel en gesê nou gaan julle sien wat gebeur," het Jacobs vertel.
Volgens Jacobs het haar broer skielik geskree en gesê Malgas is besig om olie oor Josephine en Gerano te gooi.
"Toe ek weer sien toe trek hy die vuurhoutjie en gooi dit op my ma. Sy en my boetie het aan die brand geslaan.
"Gert het my ma gegryp en is met haar by die huis uit. Alles het net so skielik gebeur.
"Ek het na die bure, waar my ouma was, gehardloop sodat sy kan kom help.
"Die bure het my boetie uit die huis gaan haal. Ek en my ander boetie het nie seergekry nie."
Josline Fillies, Josephine se niggie sê Patricia woon tans by hulle terwyl haar boetie by 'n ander familielid bly.
"Dit gaan glad nie goed met Patricia nie. Beide die kinders kry sielkundige behandeling, maar Patricia kry steeds nagmerries oor wat met haar ma gebeur het.
"Die kinders verwerk haar dood moeilik. Dit is vir die hele familie 'n tragedie."
Teen druktyd was Josephine se begrafnisreëlings nog nie bekend nie.
Lees 'n vorige berig: Ma en seun aan die brand gesteek
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'