Update
OUDTSHOORN NUUS - Een persoon is Dinsdagoggend omstreeks 05:00 in 'n botsing sowat 12 km buite Oudtshoorn oorlede.
Die oorledene, was volgens die polisie die 23-jarige Veronique Maswati.
Sy was deel van 'n span van tien mense van Noc n Drop in George wat na Calitzdorp en Ladismith onderweg was om pamflette te versprei.
Volgens die bestuurder van die voertuig het hy in 'n skerp draai vir 'n voël geskrik wat teen die voertuig vasgevlieg het.
Hy het links van die pad afgery en met die linkerkant van die voertuig teen die rotswand vasgery.
Hy is nie in die botsing beseer nie.
Die agt passasiers is met ambulanse na die Oudtshoorn-hospitaal geneem.
Die Oudtshoorn Courant het die maatskappy net na 08:00 van die botsing in kennis gestel.
Die eienaar van die maatskappy het die beseerdes Dinsdag in die hospitaal besoek.
Sy het haar innige simpatie en medelye met die naasbestaandes van Maswati betuig. Sy het Woensdag bevestig dat vyf werknemers vir beserings behandel is.
Teen Woensdag was drie reeds ontslaan. 'n Man en 'n vrou is na die George hospitaal oorgeplaas.
Die man het inwendige beserings opgedoen en die vrou sou 'n voetoperasie ondergaan.
'n Vrou wat na Ladismith onderweg was het op die botsing afgekom en die nooddienste in kennis gestel.
Kyk 'n video hieronder:
Die botsing het sowat 'n kilometer vanaf die Perdeskoendraai in 'n skerp draai plaasgevind.
Daar was die afgelope paar jaar ten minste sewe botsings waarin drie persone gesterf het op dieselfde plek.
Lees 'n verwante artikel: 1 sterf in vroegoggend-ongeluk
ARTIKEL, VIDEO & FOTO: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'