Update
OUDTSHOORN NUUS - Die vrou wat op 30 Desember in hegtenis geneem is vir die besit van 'n groot hoeveelheid dwelms ter waarde van bykans R1,4 miljoen, het Vrydag (8 Januarie) in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn.
Borgtog van R10 000 is aan Khanyisa Mfumbe (35) van Bongolethu toegestaan. Mfumbe is tydens 'n polisie-optrede by die Unieplein-taxistaanplek op Oudtshoorn in hegtenis geneem.
Die vrou se verdagte optrede het lede van die Attaqua- honde-eenheid se aandag getrek toe sy probeer het om 'n groot tas weg te steek. Met die hulp van 'n dwelmhond is 9 000 Mandrax-tablette en 2 kg Tik in die tas gevind.
Volgens 'n polisieverklaring van kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie in die Suid-Kaap, was die aanvanklike waardeskatting van die dwelms ongeveer R1,15 miljoen. Volgens die klagstaat het die dwelms egter 'n straatwaarde van ongeveer R1,4 miljoen.
Mfumbe sê in haar veklaring dat sy sedert haar geboorte in 22ste Laan Bongolethu saam met haar moeder woon, en die ma is van twee minderjarige kinders is. Sy het ook gesê dat familielede R10 000 as borgtog sal kan betaal.
Die staat het nie borgtog teengestaan nie en landdros Marvin de Vos het borgtog toegestaan op voorwaarde dat sy nie kontak maak met staatsgetuies nie, elke Maandag en Vrydag tussen 06:00 en 18:00 by die Bongolethu polisiestasie aanmeld, nie by enige verdere misdaad betrokke raak nie. Sy mag ook nie die distrik van Oudtshoorn verlaat sonder die toestemming van die ondersoekbeampte nie.
Die borggeld is Maandag 11 Januarie, betaal en Mfumbe is vrygelaat. Die saak is vir verdere ondersoek tot 25 Februarie 2021 uitgestel.
In die verklaring van Pojie het hy gesê die streekskommissaris van die SAPD in die Tuinroete, genl Oswald Reddy, het die lede geloof vir hulle optrede en die versekering gegee dat gereelde operasies teen dwelms nog sal volg.
Vorige artikel: Verdagte voor vir dwelms van R1,15 miljoen
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'