OUDTSHOORN NUUS - ‘n Verdagte verskyn vandag in die Oudtshoorn-landdroshof op ‘n klagte van die besit van dwelms met ‘n straatwaarde van meer as R1 miljoen.
Volgens ‘n verklaring deur die polisie is ‘n vrou op 3 Januarie by die Oudtshoorn taxistaanplek gearresteer vir die besit van Mandrax en Tik.
Lede van die Attaqua-honde-eenheid op Oudtshoorn was besig met ‘n operasie toe die vrou se verdagte optrede hulle aandag getrek het. Sy het probeer om ‘n groot tas weg te steek en met die hulp van ‘n dwelmhond is die dwelms in die tas gevind.
Daar was 9 000 Mandrax-tablette en twee kilogram Tik in die tas versteek. Die 35-jarige vrou is in hegtenis geneem op ‘n klag van dwelmhandel. Sy verskyn vandag in die hof vir ‘n formele borgtogaansoek.
Genl Oswald Reddy, streeksbevelvoerder van die SAPD in die Tuinroete het die SAPD-lede geloof vir hulle waaksaamheid en toewyding om die vloei van dwelms na dié area te stuit.
Hy het gesê die lede se optrede maak ‘n groot bydrae om gemeenskappe van die dwelmplaag te bevry en om dwelmhandelaars wat gemeenskappe verwoes, aan te keer. Hy het belowe dat soortgelyke optredes sal voortgaan.
Met die hulp van ‘n dwelmhond is die dwelms in die tas gevind:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'