Update
OUDTSHOORN NUUS - Die omstandighede rondom die verdrinking van die vyfjarige Cornelius (Cornie) Draai by die Bridgton-swembad word nog ondersoek. Hy het Saterdag verdrink toe hy in die groot swembad beland het.
Sy ma, Mieta Draai, het Maandag aan die Oudtshoorn Courant vertel dat sy en haar man, David, se harte in stukkies gebreek is en dat hulle steeds nie kan glo dat hul seun oorlede is nie.
Volgens haar het sy en haar vier kinders Jumadrè Gelant (15), Debruzè Gelant (15), Franklin Minnaar (13) en Cornie Draai, Saterdagmiddag by die Bridgton-swembad gaan uitspan. Haar twee susterkinders, Jakoos Louw (19) en Wilnadine Wagner (13) het hulle ook vergesel.
"Ons is gereelde besoekers by dié swembad en ons het soos gewoonlik afgesit na die klein swembadjie juis vir Cornie se onthalwe. My groter kinders het in die groot swembad geswem. Na 'n rukkie se baljaar in die water het ek en Cornie uitgeklim en by 'n muurtjie in die son gestaan.
"Terwyl ek met iemand gesels het, moes Cornie sy hand van myne losgemaak het. Ek het kort daarna tevergeefs tussen die sowat 400 mense na hom gesoek."
Die vyfjarige Cornelius (Cornie) Draai. Foto verskaf
Cornie se liggaam is uiteindelik in 'n deel waar die swembad 1,7m diep is, ontdek. Die maksimum diepte van Bridgton-swembad is 3,7m omdat die swembad volgens olimpiese standaarde gebou is. Volgens een van die vier lewensredders wat aan diens was, het hulle op die toneel mond-tot-mond-asemhaling op Cornie toegepas, maar hy was reeds oorlede.
"Ek is 'n opgeleide lewensredder met jarelange ondervinding en hierdie was my eerste verdrinking."
Hy het genoem dat die werk van lewensredders bemoeilik word deur die feit dat hulle nie met sigbare uniforms of fluitjies toegerus word nie. Hy het ook daarop gewys dat hy voel slegs vier lewensredders op sulke besige dae te min is.
Cornie se ouma, Dalleen Galant, het Cornie as 'n woelige woelwater beskryf wat altyd 'n groot glimlag op sy gesig gehad het. "Ek het Sondag na ete nog sy vla en poeding vir hom gebêre en ek het na die tyd besef dat hy nie meer met ons is nie. Sy opgewekte geaardheid sal beslis in ons huis gemis word."
Intussen was die Bridgton-, Kerkstraat- en Dysselsdorp-swembaddens die afgelope week gesluit nadat omgekrapte lede van die gemeenskap 'n dag na dié verdrinking die swembadbestuurder by die Kerkstraat-swembad gekonfrontreer het. Die mense wou glo antwoorde gehad het oor Saterdag se verdrinking. 'n Argument het ontstaan en die swembadbestuurder is glo in die proses aangerand.
'n Navraag is aan die Oudtshoorn-munisipaliteit gestuur waarin onder andere gevra is oor die aantal lewensrtedders, veiligheidsmaatreël en beweringe dat die swembad se water troebel was en die bodem nie sigbaar was nie. In reaksie op die navraag het Aurelia Oliphant, woordvoerder van die munisipaliteit gesê 'n interne ondersoek is reeds geloods wat teen vandag (Vrydag) afgehandel sal wees en dat 'n volledige verslag dan an die media gestuur sal word.
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is'n geregtelike nadoodse ondersoekdossier geopen. Cornie was ten tye van die nootlottige voorval 'n leerder van Dorkas Gesinsnasorg en Voorskoolse-sentrum en sou aanstaande jaar sy volwaardige skoolloopbaan begin het.
Sy begrafnis is Saterdag om 09:00 by hul huis in 13de laan 1685. Die kerkdiens begin om 10: 00 by die Nuwe Pinkster Beweging van Jesus Christus.
Cornelius se ouers, David en Mieta Draai. Foto: Wyndham Ewerts.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'