OUDTSHOORN NUUS - Ongeveer 40 Oudtshoorniete kon Dinsdagaand by Turnberry Hotel 'n voorsmakie geniet van die naweek se Thousand Sensations Craft Liqour Food and Music Festival wat by Fancourt aangebied word. Niel Els, sjef en mede-eienaar van Turnberry het tradisionele boerekos met 'n kinkel, gepaar met uitsoek boetiekdrinkgoed wat Thousand Sensations se Alewijn Dippenaar saamgebring het.
Dippenaar het 11 van die 218 boetiek-drinkgoed wat Vrydag en Saterdag by Fancourt te proe gaan wees, gepaar met Els se uitsoekhappies.
Vat nou maar die Robertson Brouery in George, waar agt verskillende boetiekbierspesies met nostalgiese name soos Rythm, Reggae, Blues en Country gebrou word, gepaar met Niel se vars tamatiesop met 'n subtiele komyngeur.
Of Cape Mead Brewery se twee heuningbiere – en Grundheim se Black Mountain Gin, met die onmiskenbare geur van Karoobossies – gepaar met ouma se bobotie opgedollie in 'n tradisionele Indiese samoesa. Dis mos nou 'n onheilige huwelik...
Of The Vikings Dark Moon boetiekbier, gepaar met subtiele gerookte salm, guacamole en 'n broodstokkie om dit mee op te klits. "Die voorafproeë, wat ook by drie venues in George en Wilderness plaasgevind het, het 'n dubbele doel – eerstens maak dit mense bewus van die groeiende boetiek-drinkgoedbedryf, wat 'n totale alternatiewe smaaksensasie is en mense opnuut laat dink oor wat hulle drink, en 'n bemarkingsaksie vir die Thousand Sensations-saamtrek by Fancourt," verduidelik Dippenaar.
Hy het gesê hy is verstom oor die wyse waarop die fees gegroei het sedert die eerste een met slegs 'n paar kraft-biere wat hy as 'n verjaarsdagpartytjie gereël het. Die terrein is Vrydag van 15:00 tot 22:00 oop en Saterdag vanaf 11:00 tot 22:00.
Toegang tot die fees by Fancourt kos R80 per volwassene per dag, of R140 vir twee dae, R40 per kind tussen 12 en 18 en kinders onder 12 gratis.
Kaartjies is beskikbaar by www.ticketrush.co.za. Kontak Alewijn Dippenaar by 082 457 5675 of dyndev@mweb.co.za of besoek die webblad www.thousandsensations.co.za of Facebook Thousand Sensations vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'