OUDTSHOORN NUUS - Vyftien lede van die Oudtshoorn Vroue-Landbouvereniging het op 20 Mei 'n byeenkoms by Millenium Park bygewoon waar mikrokruie, inheemse plante en natuurbewaring die middelpunt van die program was.
Mariette Basson en vriendinne van die portefeulje: landbou en tuinbou, het as gasvroue opgetree.
Adam Barnard, eienaar van Root'd, 'n plaaslike saadverspreider, en sy assistent, Albern Coetzee, het die vroue aan verskeie variëteite mikrokruie en plantjies bekendgestel, 'n toenemende gewilde produk wat aansluit by Suid-Afrikaners se groeiende belangstelling in gesonde eetgewoontes.
Mikrokruie en jong plantjies word al hoe meer in restaurante en huishoudings gebruik. Een van Root'd se groot kliënte in Oudtshoorn is Buffelsdrift Game Lodge, waar vars mikrokruie deel vorm van die vyfster-kulinêre ervaring wat aan besoekers gebied word.
Die algemene wanopvatting dat mikro-kruie slegs as garnering dien, is tydens die demonstrasie vinnig uit die weg geruim. 'n Proesessie het deelnemers die geleentheid gebied om verskillende geure te ervaar en te identifiseer.
Ertjiespruite het 'n soet smaak, broccoli herinner aan sy koolfamilie-oorsprong, prei dra 'n kenmerkende uie-ondertoon, terwyl radyse 'n duidelike pepersmaak bied.
Die kweekproses vereis streng gehalte-beheer om muf en swamme te voorkom. Geen kompos of chemiese middels word gebruik nie. Spesiale ontkiemingsmateriaal, waaronder klappervesel, vermikuliet en perliet, word gebruik om die produkte onder beheerde toestande te kweek.
Die mikrokruie benodig 'n noukeurige balans tussen temperatuur en vog, aangesien die wortels nie in water mag staan nie. Alle sade wat gebruik word, is GMO-vry.
Boom- en voëlspesies van die jaar
Basson het ook die geleentheid gebruik om die boom- en voëlspesies van die jaar aan die groep bekend te stel.
Die wilde olyf (Olea europaea subsp. africana), ook bekend as olienhout, is uitgelig as 'n geharde inheemse boom wat wydverspreid in Suid-Afrika voorkom, vanaf droë binnelandse streke en berggebiede tot kus- en bosgebiede.
Nog 'n interessante spesie wat bespreek is, was die rooi ivoor (Berchemia zeyheri), 'n skaars en beskermde boomsoort wat hoofsaaklik in bosveldgebiede van KwaZulu-Natal, Zimbabwe en dele van die Noord-Kaap voorkom. Tradisioneel is kieries wat uit dié boom se kenmerkende rooierige hout vervaardig is, slegs deur Zoeloe-koninklikes gebruik.
Die Witkruisvleivalk (Circus maurus), 'n voëlspesie wat endemies aan Suid-Afrika is, is ook bespreek. Die spesie word tans as bedreig beskou, met minder as 500 broeipare wat na raming nog in die land voorkom.
Afsluiting
Die leersame middag is afgesluit met 'n verskeidenheid verversings wat die tema "van tuin tot tafel" weerspieël het.
Onder die spyskaart was mini-zucchini-tertjies, wortelmuffins, appeltert en tamatie-en-feta-happies.
Annatjie Kemp het die tafelversiering behartig met 'n kleurvolle rangskikking van beet- en wortelblare, rissies, pam-poentjies, roosmaryntakke en eetbare blommetjies.
Die groep beoog om Root'd binne die volgende paar maande te besoek om meer oor die ontkieming en verbouing van mikrokruie te leer. Tot dan bly plaaslike kleinhandelaars die bron van vars mikrokruie, en eetbare blommetjies vir tee of selfs 'n kreatiewe jenewer-aanbieding.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’