OUDTSHOORN NUUS - Hannes Visser, oudredakteur van Oudtshoorn Courant, is een van 22 gedugte skrywers wie se kortverhale as een van die finaliste vir die nuutste publikasie van die Stellenbosch Woordfeeskortverhaalbundel, Speel, gekies is.
Ander skrywers wie se kortverhale in die bundel verskyn sluit skrywers soos Daneel Jantjies, bekroonde joernalis Murray La Vita, Marius de Bruyn, Frederik de Jager en Erla-Mari Diedericks in. Die algehele wenner sal op 28 September by die bundelbekendstelling gedurende vanjaar se Stellenbosch-woordfees aangekondig word. Die wenner kry altesaam R30 000.
Dit is die negende jaar wat die kompetisie plaasvind en keurders het die moeilike taak gehad om slegs 22 kortverhale uit die 368 te kies wat ingeskryf het.
Visser beskou hierdie insluiting van sy kortverhaal as 'n reusevoorreg.
"Dié kortverhaal is spesiaal vir die Woordfees geskryf. Ek het dit geniet om dit te skryf."
Volgens hom vind hy sy inspirasie uit die alle daagse lewe.
"Ek kry my inspirasie uit mense en dinge wat om my gebeur. My gedigte is omtrent almal oor iets wat met mense gebeur en my kortverhale ontstaan ook so. Ek dink skrywers moet net waarneem, sien en luister, dan besef hulle hoeveel stories elke dag rondom hulle afspeel."
Visser sê die skryfkursus wat hy aanbied gaan juis oor hoe skrywers en digters die stories om hulle, en ook hul eie stories ervaar, verwerk en oorvertel.
Visser se debuutdigbundel, Die jaar toe pa..., het in 2019 die lig gesien, en is deur Naledi Uitgewers uitgegee. Sy debuutmisdaadroman, Voorblad, het in September verlede jaar op die rakke verskyn en is een van Naledi se topverkopers.
Donkirbedônirt is 'n satiriese bundel oor beurtkrag wat hy verlede jaar onder sy eie uitgewersmaatskappy, Kersligmedia, bekendgestel het.
Visser sê sy aandag is tans op die Prins-Albert-leesfees wat die naweek van, 30 Augustus tot 1 September, plaasvind. Hy is een van die organiseerders van die fees. Intussen werk hy ook aan sy opvolg van Voorblad.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’