KAROO NUUS - Die hele wêreld is, op alle vlakke, in rep en roer deur die virus en sy gevolge vasgevang. Die hartverskeurende tonele en drama wat in Italië ontvou, veroorsaak paniek en wanhoop.
So ironies dat 'n onsigbare mikro-organisme binne maande regkry wat geen oorlog, regering, geld of mag kon doen nie. Die virus is die groot gelykmaker - dit verdra nie onreg nie en dit diskrimineer nie.
Dalk het die virus ons gedwing om terug na die innige gesinsverband te keer, om vir almal om te gee en te help. Hier kom die besef by ons uit dat om vir mekaar om te gee eintlik onsself help - want in hierdie stryd teen verspreiding van die virus moet almal in dieselfde skrum druk. Is dit nie die betekenis van "Ubuntu" nie?
Hierdie situasie is ernstig en die Suid-Kaap het nou ook die fase van akute verspreiding betrek - ons het nie gespaar gebly nie.
Die belangrikste raad is om alle maatreëls getrou na te kom, nie oorboord te gaan en nie paniek en vals gerugte en stemboodskappe te versprei nie. Ek wil weereens beklemtoon dat die regering en privaat mediese sektore geweldig paraat en effektief funksioneer.
Alhoewel ek gevra is om oor die virus, vrese en maatreëls te skryf is die daaglikse optrede, kalmte en roetine van ons mense baie belangrik om ons heel anderkant te kry.
Maak sinvol gebruik van die inperkingstyd en moenie uitgaan en inkopies doen net omdat jy kan nie, eerder net as jy moet!
Hier volg 'n paar sinvolle voorstelle:
- Die virus kry dit reg wat ons al jare voorspel - die terugkeer na gesinswaardes.
- Waak daarteen om jou hele dag te vermors aan onnodige emosies en vrees - dit help in elk geval niks.
- Onthou daar is jong kinders om ons wat hulle eie vrese, nagmerries en sielkundige reaksies op hulle ouers se optrede en angstigheid gaan ontwikkel - bly kalm, stel hulle gerus wees vir hulle 'n veilige hawe van liefde en gerusstelling.
- Gebruik die tyd om julle gesin in hegte eenheid saam te snoer en daardeur hulle vir toekomstige struikelblokke geestelik voor te berei. Daardeur leer julle om hindernisse in suksesvolle geleenthede om te skep.
- Volg getrou 'n daaglikse gesonde roetine van dag een af - staan vroeg op, help almal huis skoonmaak (dan waardeer jy jou ma se dagtaak meer).
- Kinders moet pligte kry en moedig hulle aan om te lees.
- Beperk skermtyd op televisies, speletjies en selfone - speel bordspeletjies, lag baie en bou legkaarte.
- Moenie heeldag op jou selfoon bly en die allerverskriklikste nuus met jou vriendinne en die wêreld deel nie
- Hierdie is nie 'n piekniek nie - beskou dit as lewensnoodsaaklik en as geleentheid om rustig te raak, introspeksie van jou lewe te doen en besef hoeveel voorregte en wonderlike dinge ons elke dag ervaar.
- Senior leerders kan die tyd gebruik om vir eksamens voor te berei. Daar is puik aanlyn-onderrig in alle vakke - jy kan in die drie weke jouself baie moeite vorentoe spaar.
- Dit is regtig nie nodig om jou huis soos 'n hospitaalteater te steriliseer nie en spaar tog ou Wagter van sy pote se gewas en masker opsit - hy het sy eie werk en probleme.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'