OUDTSHOORN NUUS - 'n Jong fietsryer wat Donderdagmiddag vermoedelik 'n epileptiese aanval gehad het en op 'n hoofpad beland het, is vinnig deur toevallige verbygangers bygestaan. Die voorval het Donderdagmiddag omstreeks 13:30 gebeur.
Volgens 'n provinsiale verkeersbeampte het hy diens op die R62 en die pad na Mosselbaai gedoen toe hy die fietsryer gesien het.
"Ek het skaars drie minute vroeër by die aansluiting ingedraai en so 'n kilometer met die Mosselbaaipad langs gery en weer omgedraai. Toe ek by die aansluiting langs die polisiekollege stilhou, sien ek iemand lê in die pad en 'n fiets lê op die skouer van die pad," het hy Donderdagmiddag gesê.
Volgens hom het dit gelyk of die seun bewusteloos was en hy het dadelik die nooddienste ontbied. 'n Paramedikus wat toevallig verbygery het, het stilgehou. Hy kon nie vasstel of die fietsryer moontlik raakgery was nie, maar daar was geen sigbare beserings nie. 'n Lid van Oudtshoorn se nooddienste het ook kort nadat die voorval aangemeld is, daar stilgehou.
Een van Oudtshoorn se bekende fietsryers het ook toevallig by die toneel verbygery op pad werk toe. Hy het nie die seun herken nie, maar 'n foto van hom geneem en vir iemand wat met die ontwikkeling van jong fietsryers gemoeid is, gestuur. Sy het die seun herken en die proses begin om sy ma van die voorval te laat weet.
Intussen het ER24 opgedaag en die seun, wat intussen sy bewussyn herwin het, geassesseer. Die seun het egter glad nie met paramedici gepraat nie en het eers heelwat later ingestem dat hy op 'n draagbaar gelaai word en per ambulans hospitaal toe geneem word om volledig ondersoek te word. 'n Werknemer van een van die fietswinkels in Oudtshoorn het ook by die toneel stilgehou en die seun se fiets dorp toe geneem. Die 13-jarige seun is dieselfde middag uit die hospitaal ontslaan.
Sy ma het hierdie week gesê daar word vermoed dat hy 'n epileptiese aanval gehad het, maar dat hy meer as 'n jaar gelede 'n voorval gehad het. "Dit kan ook wees dat hy nie iets geëet het voordat hy gaan ry het nie, maar hy is nou heeltemal reg. Baie dankie vir almal wat omgegee het en hom gehelp het," het sy gesê.
Paramdici het die seun op sy sy gedraai nadat hulle uitgevind het hy het moontlik 'n epileptiese aanval gehad.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'