KLEIN KAROO NUUS - Sedert die begin van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in 1996 word daar jaarliks individue vereer. By vanjaar se fees in Oudtshoorn word daar vier uitsonderlike mense op gepaste wyse erkenning gegee.
Kunste Onbeperk-prys vir bydrae tot die KKNK: Nic Barrow
Die eerste saadjie vir die ontstaan van die KKNK is in 1992 geplant toe die Oudtshoorn-sakeman Nic Barrow saam met sy vrou, Ferda, en hul dogters, Olga en Nicolene, die Standard Bank National Arts Festival in Makhanda (destyds Grahamstad) bygewoon het.
Die fees het 'n groot indruk op Barrow gemaak. Hy het besef dat daar geen soortgelyke Afrikaanse fees in die land is nie en net daar is die droom van 'n Afrikaanse kunstefees op Oudtshoorn gebore.
As groot liefhebber van die kunste, en ook suksesvolle sakeman, het Barrow besef wat so 'n fees vir die kunste in Suid-Afrika kan beteken, maar ook vir die ekonomie van 'n Klein-Karoo-dorp, die streek en die provinsie.
Almal wat hom ken weet egter hy is nie net 'n dromer nie, maar ook 'n doener. En wanneer hy doen, doen hy dit met 'n geesdrif en passie wat almal om hom inspireer, en hy streef altyd na uitmuntende gehalte.
Barrow het sy aanvanklike idee met Andrew Marais, eertydse skakelhoof van die destydse Nasionale Pers, gedeel en die droom het gegroei, met ander borge wat aan boord gekom het. Inwoners is geïnspireer en 'n eerste komitee van geesdriftige Oudtshoorniete het aan die werk gespring.
Kundiges soos die dramaturg Pieter Fourie, wat as feeshoof gedien het, en die rolprentmaker en draaiboekskrywer Jans Rautenbach is betrek.
Die res is geskiedenis. Die invloed van die KKNK op teater en musiek in Suid-Afrika is massief.
Later jare was hy ook die dryfveer agter Klein Karoo Klassique en is ook die beskermheer van dié jaarlikse klassieke musiekfees, wat ook deur Kunste Onbeperk in Oudtshoorn aangebied word. Nic woon nou in Franschhoek waar hy en Ferda ook gestalte gegee het aan die Franschhoek Chamber Music Festival, wat vanjaar in Februarie vir die eerste keer aangebied is.
Kunste Onbeperk-prys vir vertolking: Frank Opperman
Frank Opperman. Foto: Antonia Steyn
Die geliefde verhoog- en televisie-akteur Frank Opperman (61) is vereer met die KKNK se Kunste Onbeperk-prys vir vertolking vir 2022 en sal by vanjaar se fees te sien wees in Aardklop se bekroonde soloproduksie Ek wens, ek wens.
Gelukkig vir Suid-Afrikaanse gehore en kykers het Opperman se aanvanklike plan om regte te studeer vinnig skipbreuk gely toe die Latyn hom gepootjie het en hy ná 'n jaar opgeskop het en vir diensplig opgeroep is. Ná sy diensplig, waar hy by die weermag se orkes betrokke was, het hy drama aan die destydse Technikon Pretoria (nou die Tshwane-Universiteit van Tegnologie) gestudeer.
Hoewel hy tot vandag toe steeds aangespreek word as Ouboet danksy sy vertolking van dié karakter in die TV-reeks Orkney snork nie, het hy deur die jare ook gestalte gegee aan verskeie besondere karakters op die verhoog.
Wyle Harry Kalmer, skrywer en dramaturg, het vir Opperman die soloproduksies 25 vrouens en Meneer de Beer geskryf. Sy latere samewerking met Dana Snyman het onder meer gelei tot die verhoogkarakters Pottie Potgieter, ds. Tienie Benade en Donkie (bynaam vir die skoolhoof Barry Swart).
Vir ds. Tienie het hy 'n kykNET Fiësta-prys vir die beste akteur in 'n solovertoning gewen. Hy is ook benoem vir 'n Fiësta vir Saartjie Botha se drama Toutjies en Ferreira, wat onder meer 'n Fiësta vir beste aanbieding gewen het.
Terwyl TV-kykers nog 'n wyle sal moet wag om hom in die rol van die gehate pa in die tweede reeks van Nêrens, Noord-Kaap op kykNET te sien, oorrompel hy intussen gehore met sy aangrypende vertolking in Ek wens, ek wens, waarvoor Opperman by verlede jaar se Aardklop-opwipfees as beste akteur bekroon is.
In dié verwerking van Zirk van den Berg se bekroonde gelyknamige roman gee Opperman gestalte aan nog 'n onvergeetlike karakter, die lykbesorger Seb, wat vertel van sy ontmoeting met die agtjarige kankerlyer Gawie. Komiese elemente is daar heelwat, maar dit sal wys wees om sneesdoekies byderhand te hê vir die belewenis van Opperman se volkome vakmanskap as verhoogakteur.
Kunste Onbeperk-prys vir 'n jong stem: Jolyn Phillips
Jolyn Phillips. Foto: Antonia Steyn
Jolyn Phillips pak die lewe aan op 'n drafstap. Daar is nie 'n menigte wat op die ouderdom van 31 kan sê hulle het reeds vier grade agter hul naam nie en het reeds drie boeke gepubliseer nie. En haar beskrywing as "verhoogkunstenaar" sluit talle rolle in: vervaardiger, skrywer, komponis, sanger en vertolker. Dit is nou buiten dat sy as 'n dosent in Afrikaans verbonde is aan die Universiteit van Johannesburg…
Dit is dan ook al die rolle wat Phillips vervul in die KKNK-debuutproduksie Bientang: bloedspoor/!nau, wat die verhaal vertel van die legendariese vrou Bientang, wat in 'n grot in Hermanus gewoon het. Dit is 'n verwerking van haar tweede digbundel, Bientang, wat in 2020 verskyn het en waarvoor sy in 2021 die Eugène Marais-prys gewen het.
Phillips het gedebuteer as skrywer in 2016 met die Engelse kortverhaalbundel Tjieng Tjang Tjerries & Other Stories, wat oorspronklik deur Modjaji Books en later deur Human & Rousseau uitgegee is. Die fokus van die verhale is van haar komvandaanplek, Gansbaai. Hiervoor het sy die National Institute for the Humanities and Social Sciences-prys vir beste fiksie (2018) gewen.
In 2017 debuteer sy as digter met die bundel Radbraak, wat met die UJ-prys vir beste debuut (2018) bekroon is. Sy het Tjieng Tjang Tjerries saam met die skrywer-regisseur Jason Jacobs verwerk vir die verhoog vir die Toyota US Woordfees in 2018.
Phillips is besig met haar doktorsgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van die Wes-Kaap (waar sy haar meestersgraad in kreatiewe skryfkuns behaal het). Haar BA-graad het sy verwerf met drie hoofvakke: sielkunde, Frans en Engels. Op 31 inderdaad nog 'n jong stem, maar wat reeds wyd weerklink.
Feeskunstenaar: Mary Sibande sit haar reis voort met haar triomfantelike alter ego Sophie
Mary Sibande at her studio, August House, Johannesburg. Photo: Jodi Bieber
Majestueus. Daar is geen ander manier om die gevierde en bekroonde Mary Sibande se kunswerke van haar alter ego Sophie te beskryf nie. Die karakter Sophie wat sy as jong, opkomende kunstenaar geskep het met verwysing na die drie generasies van haar familie wat as huiswerkers gewerk het.
Lewensgroot, geskep uit 'n afgietsel van haar eie liggaam, tooi sy Sophie dikwels in koningsblou, soms in purper, ander kere in 'n bloedrooi gewaad. In uitrustings wat dikwels herinner aan Victoriaanse oordaad word Sophie verhef tot superheldstatus, wat uittroon bo die beperkende huishoudelike ruimte van witheid.
In die uitstalling In the Midst of Chaos, There Is Opportunity, wat in 2017 voltooi is en by die KKNK te sien sal wees, skep Sibande 'n ruiterin-figuur op 'n perd geklee in 'n helderrooi oorlogsgewaad, omring deur aggressiewe mitiese diere en 'n reeks vroulike figure op speelgoedhoutperde wat aan soldate herinner.
Sibande is in 1982 in Barberton, Mpumalanga, gebore, het in 2004 'n diploma in beeldende kuns aan die Witwatersrandse Tegniese Kollege verwerf en in 2007 'n honneursgraad aan die Universiteit van Johannesburg.
Intussen het sy die wêreld verower. Sy is onder meer bekroon met die Standard Bank Jong Kunstenaars-prys vir visuele kuns (2013), die Johannesburg Alumni Dignitas-prys (2014) en die Smithsonian National Museum of African Arts-prys (2017). Kunstenaarsverblyf en genootskaptoekennings strek van Switserland, Duitsland en Frankryk tot by die VSA. Sy het ook van 2018 tot 2019 die Virginia C. Gildersleeve-leerstoel aan die Barnard-kollege van die Columbia Universiteit in New York beklee.
Skaars 40 sit Mary Sibande haar reis met haar triomfantelike Sophie voort.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'