Update Warning: Graphic content
OUDTSHOORN NUUS - Die moordsaak van Justin Booysen (30) wat die afgelope naweek koelbloedig binne sy voordeur in Rosebank doodgeskiet is, het Woensdag 'n wending geneem toe 'n vierde verdagte vir die moord in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn het.
Drie mans, Ebrahim Malgas, Breyton Bruiners en Simphiwe Ndani, is aanvanklik Sondag vir die moord in hegtenis geneem. Dinsdagaand is die vierde verdagte, Lorenzo Dominique Malgas, 'n familielid van Ebrahim, ook in hegtenis geneem. Dit is nog nie duidelik wie die beweerde snellertrekker was nie.
Bruiners, Malgas en Ndani het Dinsdag hul tweede verskyning in die stampvol landdroshof op Oudtshoorn gehad.
Lorenzo het Woensdag as vierde verdagte in die moord verskyn. Die vier van hulle staan tereg op aanklag van moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Vaughn Shone verskyn voorlopig vir Bruiners en Lorenzo, terwyl Anzell Loubsher die ander twee verdagtes sal verteenwoordig. Die saak van al vier verdagtes is tot Maandag 25 November vir 'n formele borgtogaansoek uitgestel.
Sers. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het die week gesê dat die vuurwapen waarmee Booysen geskiet is nog nie geïdentifiseer is nie en dat die moord met bendegeweld verband hou.
Justin Booysen. Foto's: Liezl van Niekerk
Na Dinsdag se hofverrigtinge het 'n groot groep van Booysen se vriende en familie buite die polisiestasie gestaan en gewag dat die verdagtes na die gevangenis geneem word.
Volgens Cathrine Saptou, Booysen se ma, het die eerste drie verdagtes Maandag na hul eerste verskyning, op pad terug na die gevangenis, vanuit 'n polisievoertuig opmerkings oor Booysen se dood na sy tannie, wat in die straat geloop het, geskree.
"Sy was baie ontsteld gewees. Die mense wou Dinsdag net wys dat ons nie geïntimideer gaan word nie."
Saptou het in drie maande se tyd haar tweede oudste seun aan die dood afgestaan. Haar tweede jongste seun Dueron Saptou (27) is in Augustus in 'n motor-fietsongeluk in Langenhovenweg dood.
Oor Booysen se moord sê Saptou dat Booysen Saterdag in 'n vrolike bui van haar huis na sy eie huis in Rosebank is.
"Hy wou nog sy sussie saamneem, maar sy wou nie uitgaan nie. Sy is gewoonlik naweke by hom. Ons het kort daarna uitgevind hy is dood."
Volgens haar, het die man wat Booysen geskiet het, saam met 'n groep ander mans saam met Booysen by die veiligheidshek ingekom.
"Daar was glo 'n struweling by die deur. Justin het die deur van binne af probeer toedruk, maar die man het sy hand deur gedruk en twee skote afgevuur. Hy is in sy onderkakebeen getref. Hy het glo nog probeer praat met sy vriende na hy geskiet is, maar weens die skade aan sy mond kon hy nie. Hy is in die hospitaal oorlede. Die dokter het aan ons gesê dit is as gevolg van bloedverlies."
Op 'n vraag of die moord met bendegeweld verband hou, het sy gesê dat haar seun wel met dwelms gesmokkel het, maar dat hy nie aan 'n bende behoort het nie.
"Die groep mans wat vir die moord verantwoordelik was, is wel 'n 'gang', maar Justin wou nooit deel wees van so iets nie, en hulle het nie daarvan gehou nie."
Saptou sê hulle beplan die begrafnis vir volgende week.
Die toneel in Justin Booysen se voorhuis na hy geskiet is. Foto verskaf
Lees vorige artikels:
- Vierde verdagte vas na moord
- Moordsaak vir borgtog uitgestel
- Moordverdagtes Môre voor
- Jong man doodgeskiet
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'