OUDTSHOORN NUUS - As hulle moes kies tussen die verhoog, rolprente en televisie, sou hulle beslis die verhoog as hul gunsteling uitsonder.
So het die akteurspaar Johan (84) en Lida Botha (91) Saterdagaand tydens 'n huldigingsgeleentheid by Surval Boutique-olyflandgoed gesê.
Die aand, wat deur ongeveer 70 gaste bygewoon is, was die inisiatief van Daniel Kritzinger en Christo Smit.
"Die Bothas is al meer as vyf dekades in die bedryf en Suid-Afrika se bekendste akteurspaar.
Hulle het verlede maand na Oudtshoorn verhuis, en ons wou graag iets reël om hulle te vereer vir hulle werk en ook om vir hulle iets te gee om met hulle hervestigingskoste te help," het Kritzinger gesê.
Hy het gedurende die aand die inkomste uit kaartjieverkope aan hulle oorhandig.
Die bekroonde dramaturg, akademikus, regisseur en akteur, prof. Nico Luwes, het spesiaal en as 'n verrassing, vir die geleentheid gekom om oor die Bothas se reusebydrae tot die kunste te gesels.
Daar is 'n ellelange lys van produksies waarin Lida en Johan die afgelope vyf dekades opgetree het. Tesame het hulle in meer as 200 verhoog-, film-, televisie- en radioproduksies opgetree.
As gevolg van gesondheidsredes tree Johan nie meer op nie, maar op 91 is Lida steeds voor die kameras. Verlede jaar het sy die hoofrol in die film, Die Kwiksilwers, vertolk en is ook in een van die hoofrolle in die televisiereeks, Die Kantoor, wat in Januarie op kykNET begin het.
Tydens sy praatjie het Luwes aangekondig dat 'n bekende persoon in teaterkringe, wat anoniem wil bly, van die huldigingsgeleentheid gehoor het en R100 000 aan die Bothas skenk het. Luwes het gesê hierdie gebaar getuig van die impak wat die akteurspaar op die toneelbedryf het.
Daar was egter nog verrassings wat op Johan en Lida gewag het. Die gesoute akteur, Cedwyn Joel, wat onder andere saam met Johan in Suidooster en saam met Lida in Meeulanders gespeel het, het by hul tafel gesit.
Nog gaste by hul tafel was Jan van Tonder en sy lewensmaat Jenny Pieterse. Lida het die rol van die hoofkarakter se ouma in die filmweergawe van Van Tonder se Roepman gespeel.
Innes Benade en sy vrou Greta, het die aand as gaskunstenaars opgetree. Tydens hul optrede het Innes gesê dit wat die Bothas op die verhoog, op film en op die radio vasgelê het, sal nog dekades en dekades lank bestaan en geniet kan word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’