Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Die amptelike opening van die My Beloved Fellow Inhabitants, 'n besondere kunsuitstalling deur gerekende Klein-Karoo kunstenaars, Janet Dixon en Chris van Niekerk het Donderdagaand, 24 Julie, by Te Heerlik plaasgevind. Die uitstalling sal tot 10 Augustus hier besoek kan word.
Besoekers word uitgenooi om die merk-waardige wêreld van insekte en ander klein lewende wesens vanuit 'n nuwe perspektief te ontdek, wesens wat ons daagliks omring, maar dikwels ongemerk verbygaan.
Hoewel Dixon en Van Niekerk in verskillende mediums werk, deel hulle 'n diep waardering vir die natuur en haar fyn besonderhede. Hul werke bied twee unieke, maar aanvullende interpretasies van dieselfde tema.
Dixon is reeds meer as twee dekades lank 'n gevestigde naam in die kunswêreld van die Suid-Kaap. As selfopgeleide kunstenaar, kurator en stigter van die Artists of Oudtshoorn-koöperasie en ArtKaroo Gallery put sy haar inspirasie uit die landskap, natuur en mense van die Klein-Karoo.
Vir My Beloved Fellow Inhabitants stel sy 'n nuwe reeks alkoholink-skilderye bekend waarin insekte as die juwele van die natuur uitgebeeld word.
Haar werke is ryk aan kleur, beweging en emosie en beklemtoon nie net die skoonheid van hierdie klein wesens nie, maar ook hul onmisbare rol in die ekologiese balans.
"Nature is an endless source of wonder and inspiration for me. My Beloved Fellow Inhabitants is an attempt to spotlight not only the critical importance even the smallest creature has in our ecology, but also the ingenuity of design, the exquisite engineering and intrinsic worth of each insect, arthropod or tiny creature," sê Dixon.
Saam met Dixon se skilderye word die uitsonderlike botaniese beeldhouwerke van die Calitzdorpse kunstenaar Chris van Niekerk, uitgestal. Van Niekerk, wat 'n agtergrond in tuinbou het, skep verstommend realistiese insekte uit bewaarde Karoo-fynbos, en ander natuurlike plantmateriaal.
Blare, sade, grasse, wortels, bas en dorings word omskep in fyn uitgewerkte kunswerke wat die grens tussen natuurwetenskap en beeldende kuns laat vervaag. Sy werk vier die unieke biodiversiteit van die Klein-Karoo en getuig van uitsonderlike vakmanskap, geduld en kreatiwiteit.
Waar Dixon deur kleur, atmosfeer en emosie die essensie van insekte vasvang, openbaar Van Niekerk hul buitengewone detail en vorm deur middel van beeldhou-kuns. Saam skep hulle 'n boeiende gesprek tussen kuns en natuur wat besoekers aanmoedig om stadiger te kyk en die wêreld om hulle met nuwe waardering te beleef.
Meer as bloot 'n kunsuitstalling, is My Beloved Fellow Inhabitants 'n uitnodiging om weer verwonderd te raak oor die natuur. Deur middel van skilderkuns en botaniese beeldhouwerk herinner Dixon en Van Niekerk besoekers daaraan dat selfs die kleinste inwoners van ons wêreld van onskatbare waarde is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’