LADISMITH NUUS - Internasionale Verpleegstersdag is verlede Vrydag feestelik in Ladismith gevier toe verpleegpersoneel van die Alan Blyth-hospitaal bymekaargekom het om hul belangrike rol in die gesondheidsdiens te vier.
Die program is op gepaste wyse deur pastoor Melanie Aysley van die Community Faith Followers-gemeente geopen.
Sy het verwys na die vriendelike en omgeehouding waarvoor die verpleeg-personeel van die hospitaal oor jare bekend geword het.
"Julle is instrumente in die hande van die Groot Geneesheer."
Suster Doreen Nkomo, operasionele bestuurder van die hospitaal, het met trots oor haar personeel gepraat en beklemtoon dat verpleging veel meer as net 'n beroep is.
"Verpleging is 'n roeping waarin julle met vlieënde vaandels slaag. Julle verteen-woordig, net soos Florence Nightingale, hoop, opoffering en menslikheid. Ek is deeglik bewus van julle persoonlike opofferings en is opreg dankbaar daarvoor," het Nkomo gesê.
Matrone Anita Laubscher het ook die belangrike rol van verpleegkundiges beklemtoon en gesê: "Waar daar liefde en deernis is, daar is verpleging. Julle laat dikwels 'n siek kind of familielid agter om julle roeping hier uit te leef. Dit is ware onbaatsugtigheid."
Die dag is afgesluit met die aflê van die verpleegsterseed en 'n simboliese kersaansteekseremonie. Elke verpleegster het ook 'n klein geskenkie ontvang, geskenk deur plaaslike donateurs, as waardering vir hul toewyding en diens.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’