Gallery Video
OUDTSHOORN NUUS - Verpleegstersdag is op 13 Mei in Bridgton herdenk met verpleegsters en ander mediese personeel wat die spesiale geleentheid bygewoon het.
Verpleegsters speel van nature 'n baie belangrike rol in die gesondheidsorgbedryf. Hulle is die ruggraat van pasiëntesorg en sonder hulle vaardighede, toewyding en lojaliteit sou gesonder gemeenskappe nie moontlik wees nie.
Internasionale Verpleegstersdag word jaarliks op 12 Mei gevier, en dit is 'n dag om die bydraes en belangrikheid van verpleegsters regoor die wêreld raak te sien en te waardeer. Dit is ook 'n geleentheid om bewusmaking te verhoog oor die belangrike rol wat verpleegsters in ons gesondheidsorgstelsel speel. Internasionale Verpleegstersdag is ook 'n dag om hul harde werk, toewyding en verbintenis tot hul pasiënte en gemeenskappe te erken.
Phillipus Hendricks het as seremonie-meester opgetree waarna verskeie sprekers die verpleegsters kortliks toegespreek het. Ds. André Boezak van die Bridgton Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) het verrigtinge met gebed geopen en 'n bemoedigende boodskap gegee.
"Ek weet julle doen onbaatsugtige werk wat somtyds nie maklik is nie. Pasiënte is nie altyd maklik om te hanteer nie en word julle geduld, harde werk en passie vir jul werk raakgesien. Verpleegsters besef nie altyd dat die samelewing opkyk na hulle nie, verpleging is 'n roeping wat nie elke mens kan najaag nie.
Om elke pasiënt met liefde te versorg en al die negatiewe kritiek met menswaardigheid te hanteer, en oplossings te vind vir elke probleem, is een van die uitdagings wat verpleegsters van dag tot dag moet oorkom. Maar wanneer deernis, omgee, liefde en versorging na jou toe terugkom in die vorm van dankbaarheid, bring dit die grootste bevrediging."
Die verpleegsters het tydens die funksie ook weer hul verpleegsterseed afgelê en daarna aangesit vir 'n heerlike ete.
Dank is uitgespreek teenoor die borge van die dag.
VIDEO:
Fotogalery: Bridgton vier verpleegsterdag
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’