OUDTSHOORN NUUS - 'n Vragmotor wat Saterdagoggend in die kanaal naby die Oudtshoorn-stasie beland het, het dié plek nog verder as 'n botsing "hot-spot" uitgelig.
Die vragmotor van Imvula-konstruksie het die draai byster geraak en in die kanaal beland.
Die bestuurder het op die toneel gesê toe hy sien hy gaan nie die draai maak nie het hy probeer om op 'n paadjie langs die kanaal te bly, maar hy was té vinnig.
Die vragmotor het oor die lae muurtjie van die kanaal gery, die oorkantste wal getref en toe netjies in die kanaal tot stilstand gekom.
Die bestuurder, wat alleen in die vragmotor was, is met geringe beserings hospitaal toe geneem.
Die vragmotor het ten tye van die botsing nie 'n vrag gedra nie.
'n Herwinningsvoertuig met 'n kapasiteit van 35 ton is uit George ontbied om die vragmotor, wat ongeveer tien ton weeg, uit die kanaal te lig.
Alhoewel die botsing amusante opmerkings oor die bestuurder se goeie parkeervernuf ontlok het en niemand ernstig beseer is nie, het omstanders en beamptes hulle ernstige kommer uitgespreek oor die aantal botsings wat reeds op die draai plaasgevind het.
"Hier is so baie ongelukke op hierdie draai dat hulle nie eers meer die veiligheidsreling regmaak nie," het 'n provinsiale verkeersbeampte gesê.
Saterdag se botsing was die elfde botsing sedert Maar 2015 op presies dieselfde plek.
Na 'n botsing verlede jaar waarin 'n vragmotor met 'n vrag beeste omgeslaan het, was daar opnuut versoeke vanuit verskeie geledere dat die draai beveilig moet word.
Die vragmotor nadat dit netjies in die kanaal beland het. Foto's: Hannes Visser
Die Oudtshoorn Courant het reeds by verskeie geleenthede probeer vasstel wie vir die beveiliging van die draai verantwoordelik is.
'n Navraag in die verband wat verlede jaar aan die munisipaliteit gestuur is, is nie beantwoord nie.
George Kersop, een van Oudtshoorn se raadslede, was Saterdag ook op die toneel.
Hy het 'n verteenwoordiger van Imvula gevra of die maatskappy nie 'n verslag aan die minister sal stuur met voorstelle om die draai te beveilig nie.
Imvula is tans besig met die opgradering van die pad tussen Oudtshoorn en die Kango-grotte.
Volgens Kersop is die pad die verantwoordelikheid van die provinsie. In 'n navraag aan die munisipaliteit se paaie-afdeling is egter bevestig dat die eerste 600 m van die pad die verantwoordelikheid van die munisipaliteit is.
Volgens die antwoord is die pad, (DR 1673) die eiendom van die provinsie, maar die eerste gedeelte van 600 m vanaf die aansluiting met die George-pad moet deur die munisipaliteit op eie onkoste onderhou word.
Die res van die pad verby die stasie in die rigting van die Kammanassiedam word deur die Eden-distriksmunisipaliteit onderhou.
'n Navraag met foto's en datums van ten minste agt botsings op dié draai is gister aan die munisipaliteit gestuur vir terugvoer.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'