OUDTSHOORN NUUS - Borgtog van R1 000 is Vrydag in die Oudtshoorn-landdroshof toegestaan aan 'n man van Rose Valley wat van moord aangekla word.
Die 25-jarige Denrick Carelsen word daarvan aangekla dat hy op 26 Desember verlede jaar vir Wilfred Davids in Rose Valley doodgesteek het.
Wilfred was 'n petroljoggie by die Caltex-vulstasie.
Landdros Lorraine Samuels het met die toestaan van borgtog gesê geen getuienis is voor die hof gebring om borgtog te weier nie en is dit in belang van geregtigheid dat dit wel toegestaan word.
Carelsen het 'n vaste werk en woonadres en daar bestaan geen moontlikheid dat hy nie sy hofverskynings sal bywoon nie.
Carelsen moet drie keer per week by die Oudtshoorn-polisiestasie aanmeld, nie betrokke raak by misdaad nie, en nie van woonadres verander nie.
Hy mag ook nie kontak maak met die drie staatsgetuies nie.
Hy is gewaarsku dat indien hy enige van die voorwaardes verbreek hy in hegtenis geneem sal word, sy borgtog sal verbeur en aangehou sal word totdat die saak afgehandel is.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 9 Februarie uitgestel.
Wilfred se ma, Emerentia, het verlede week gesê die gesin sukkel nog om Wilfred se dood te verwerk. Volgens haar het Wilfred die middag van sy dood van die werk af gekom.
"Hy het gesê hy gaan vir sy meisie wat 'n ent van ons af bly, kuier. Die volgende wat ek hoor is dat Wilfred gesteek is."
Volgens haar het Wilfred met sy rug teen 'n gebou gesit toe sy by hom kom, maar hy was reeds dood.
Sy sê dit blyk dat Wilfred en die beskuldigde, wat voorheen in 'n verhouding met Wilfred se meisie was, in 'n argument betrokke was.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'