OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van ‘n man van Oudtshoorn wat teregstaan op drie aanklagte van strafbare manslag is Dinsdag in die Oudtshoorn-streekhof voorlopig tot 20 Maart uitgestel vir doktersverslae wat aangevra is.
Xavier Arends (24) was die bestuurder van die motor wat op 13 Julie 2019 op die De Rust-pad die pad verlaat en gerol het.
Drie van sy vriende, Chandré Nortjé, Jacques Prinsloo en Bertram Michaels het aan hul beserings beswyk terwyl hy self ook ernstige beserings opgedoen het.
Die verhoor het laat verlede jaar begin met die getuienis van die ondersoekbeampte, kapt. Deon Bouwer, nadat die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher, geweier het om Arends se pleitverduideliking te aanvaar.
Volgens Bouwer is nalatige bestuur die oorsaak van die ongeluk. Hy het egter onder kruisverhoor deur Arends se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, erken dat hy nie ‘n kenner ten opsigte van spoed is nie.
Arends erken in sy pleitverduideliking dat hy die bestuurder van ‘n VW Golf was en onwettig en nalatig verantwoordelik was vir die dood van Nortjé, Prinsloo en Michaels. Hy voer egter aan dat hy as gevolg van ernstige kopbeserings, wat hy in die ongeluk opgedoen het, geen kennis dra van hoe dit plaasgevind het nie.
Die staat het die hof na die getuienis van die ondersoekbeampte om uitstel gevra omdat gewag word vir ‘n doktersverslag ten opsigte van Arends se beserings. Van der Bergh het Dinsdag gesê dat vir meer as een mediese verslag gewag word.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni, en is voorlopig tot 20 Maart uitgestel. Arends is op waarskuwing vrygelaat.
Vorige artikel: Arends-verhoor eers in April 2023
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’