OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen drie mans van Oudtshoorn, wat daarvan aangekla word dat hulle helder oor dag by 'n woning in Baron van Reedestraat ingebreek en items van derduisende rande gesteel het, is Vrydag vir verdere verhoor tot November uitgestel.
Die drie verdagtes, Jonathan Ewerts, Reagan Michaels en Elton Barends, word aangekla van huisbraak en diefstal. Hulle het na bewering op 23 Januarie 2016 by die woning van Hugo de Wit ingebreek en onder andere 'n selfoon ter waarde van R7 000, sleutels van 'n Volkswagen Polo ter waarde van R3 000, 'n rekenaarskyf ter waarde van R1 500, R200 kontant en 'n knipmes ter waarde van R300 gesteel.
Hulle is nog dieselfde dag in hegtenis geneem vir die besit van gesteelde goedere.
Michaels het verlede week om ontslag aansoek gedoen omdat hy glo nie by die saak betrokke is nie. Volgens hom het ene Christopher Cupido hom met 'n hardeskyf genader om te koop en hom die versekering gegee dat dit nie gesteel is nie.
Streeklanddros Retha Pretorius het bevind dat die staat wel 'n prima facie saak teen Michaels het en het die ontslagaansoek afgekeur.
"Daar is genoeg bewyse wat tot moontlike skuldigbevinding kan lei."
Volgens die landdros kan 'n verdagte ontslaan word indien geen getuienis wat tot skuldigbevinding kan lei bestaan nie.
Die saak is vir verdere verhoor tot 8 November uitgestel en die verdagtes bly in aanhouding.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'