OUDTSHOORN NUUS - Janion Kennedy (25), beter bekend as Noemwoord in die rymkletswêreld, is 'n jong man van Dysselsdorp en nou Rosebank wat bewys het dat harde werk en geloof in jou drome jou tot groot hoogtes kan neem.
'n Vraag wat dikwels gevra word, is waar die naam Noemwoord sy oorsprong het. "Die naam is deur 'n vriend aan my gegee en verteenwoordig my vermoë om 'n storielyn te bou rondom enige woord wat aan my gegee word. Soms vertel ek net 'n storie, ander kere deel ek 'n lewensles. Ek glo vas dat my woorde 'n verskil in mense se lewens kan maak."
"Ek het in 2011, op 11-jarige ouderdom, begin rymklets saam met die groep NGQ (Next Generation Quality)."
Sedertdien het sy loopbaan behoorlik momentum gekry, en hy het die verhoog gedeel met bekende kunstenaars soos Jakkie Louw, Early B en Bliksemstraal.
"Musiek en drama vloei deur my are, ek leef my passie ten volle uit, en geniet elke oomblik daarvan," sê hy.
Kennedy is tans besig met sy eerste album, maar het reeds 'n mixtape getiteld Kom ons vibe vrygestel.
"Ek skryf my eie musiek en produksies, en storievertelling is vir my belangrik," sê hy. "Moet nooit toelaat dat jou omstandighede jou terughou nie. Ek glo daar is deure daarbuite wat wel kan oopgaan, jy moet net aanhou glo in jou drome en talent, en nooit opgee nie."
VIDEO: Kopiereg: Noemwoord
In 2025 het Noemwoord by die akteursgroep ART (Artistic Rural Talent) aangesluit. Sy loopbaan op die kassie het egter reeds in 2022 begin toe hy sy debuut gemaak het as Dricus in die televisiereeks Ouma Sarie 'n rol wat gelei het tot 'n hoofrol in die gewilde reeks Aunty Sylvie. Kennedy het begin om sy merk op die verhoog te maak.
Hy het opgetree in die verhoogproduksies Hierie Dag en Die Droomkroon-Kronieke, waar hy die verhoog met gesoute akteurs soos Lida Botha, Neels Coetzee, Neil Coppin en Carlo Daniels gedeel het.
In 2023 ontvang hy 'n gesogte Kanna-toekenning vir Beste Rymkletser tydens die Public Health Entertainment Awards, 'n bewys van sy opkomende invloed in die musiekbedryf.
Kennedy was ook in 2025 betrokke by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), waar hy op die planke te sien was in Die Swartmerrie en Behoornlik. Agter die skerms was hy betrokke by die produksie Kroon en Konfetti. Hy beoog om weer by die 2026 KKNK wees.
'n Groot hoogtepunt in sy loopbaan was toe sy liedjie Hoppa gebruik is in die gewilde Netflix-reeks Kings of Joburg, 'n prestasie wat sy werk aan 'n internasionale gehoor blootgestel het.
Volg Noemwoord op YouTube by youtube.com/@NoemwoordSA en op TikTok op Noemwoord19
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’