OUDTSHOORN NUUS - 'n Verdagte is in hegtenis geneem nadat Wendel Becker (33) Maandagaand, 11 Augustus, in Dysselsdorp met ernstige kopbeserings gevind is. Hy het Donderdag 14 Augustus aan sy beserings in George-hospitaal beswyk.
Die verdagte het Maandag 18 Augustus in die Oudtshoorn-landdroshof op aanklag van moord verskyn. Daar word verwag dat hy by sy volgende hofverskyning 'n borgtogaansoek sal bring.
Leon Campher van Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC) sê dit is reeds die tweede moord hierdie jaar in Dysselsdorp en dit het die gemeenskap diep ontstoke.
"In Mei is 'n baba in 'n sak op 'n vullishoop uitgebrand gevind. OCAC en Becker se familie beplan om tydens die borgtogaansoek 'n petisie by die Oudtshoorn-streekhof in te dien om te versoek dat borgtog nie toegestaan word nie.
Ons kan nie toesien dat moorde in ons klein gemeenskappe plaasvind nie," sê Campher.
Die polisie het teen druktyd nie op navrae reageer nie.
'n Kranslegging ter nagedagtenis van Becker is Woensdag 20 Augustus in Dysselsdorp gehou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’