OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-brandweer, in samewerking met Working On Fire en die Tuinroete-brandweer het Vrydag 'n oefening met die Kushigu Aviation-vliegtuig gedoen ná die installering van drie watertenks by die Oudtshoorn-lughawe.
Die doel van die oefening is om te kyk hoe vinnig die vliegtuig met water volgemaak kan word, en sal in die toekoms die hervul van vliegtuie tydens veldbrande vergemaklik en reaksietyd vinniger maak.
Drie 10 000 liter watertenks is aan ‘n brandkraan gekoppel en dit neem slegs drie minute om die vliegtuig met 3 000 liter water vol te maak. Die tenks word hervul met behulp van die lughawe se brandkraan, wat water uit die drinktoevoer onttrek. Gesuiwerde water kan egter nie gebruik word nie weens die chemikalieë se potensiële skade aan die voertuie en pompe.
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, is die brandkraan wat gebruik word se waterlewering te stadig en duur redelik lank en daarom het die brandweer twee 10 000 liter watertenks aangekoop en die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het ‘n derde een geskenk. Die drie tenks is by die lughawe opgerig en met ‘n sterk pomp kan water uit die tenks nou gebruik word om die vliegtuig se tenk van 3 000 liter binne drie minute te vul.
Die Kushigu Aviation-vliegtuig word gebruik om bos- en veldbrande af te koel sodat grondspanne kan inbeweeg. Die vliegtuig kan 3 000 liter water dra en dit vrystel met 'n erkende program gebaseer op die aard van die brand.
Die Kushigu Aviation-vliegtuig. Foto's verskaf
Die vliegtuig is in George, saam met twee ligte verkenningsvliegtuie en 'n Huey-helikopter met 'n wateremmer van 1 000 liter, gestasioneer. Die vliegtuig het altyd 'n vol tenk water sodat dit dadelik op 'n brand kan reageer en dit neem net tien minute om Oudtshoorn te bereik. Die waarde van die vliegtuig is ongeveer R50 miljoen.
Tydens die demonstrasie Vrydag, het die vliegtuig die 3 000 liter water wat reeds aan boord was, tydens 'n verbyvlug oor 'n strook van 800 m vrygelaat. Die stelsel is getoets om te sien hoe lank dit neem om die tenk te hervul. Tydens die toetslopie het dit presies drie minute geneem om te hervul. Die vlieënier het gedemonstreer hoe om die 3 000 liter weer oor 'n baie korter afstand vry te laat.
Brandbestryding in Oudtshoorn het 'n aansienlike hupstoot gekry met die installering van 30 000 liter watertenks by die lughawe, waar die brandbestrydingsvliegtuig binne drie minute 3 000 liter water kan inneem om veldbrande te bestry wat brandbestrydingsvermoëns versterk. Die stelsel is getoets en werk 100%.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’