OUDTSHOORN NUUS - Die AfriForum Oudtshoorn-tak se buurtwag herinner inwoners van die buurtwaggebied wat onder SAPD Sektor 3 ressorteer, aan die veiligheidsvergadering wat op Woensdag 10 Junie om 18:00 in die kerksaal van NG Kerk Wes op die hoek van Buitekant- en Tuinstraat in Wesbank plaasvind.
Marnus Kamfer, AfriForum se regs- en risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid, sal as gasspreker optree.
Kamfer is ’n prokureur wat spesialiseer in strafreg, vuurwapenwetgewing en die sekuriteitsbedryf. Hy het AfriForum in verskeie hofsake en veldtogte rakende polisiëring, grondhervorming en gemeenskapsveiligheid verteenwoordig.
Hy bied ook gereeld opleiding aan buurtwagte, gemeenskapspolisiëringsforums en plaaslike operasionele sentrums oor onderwerpe soos regsaspekte, toneelhantering, burgerarrestasies en selfverdediging.
Tydens die vergadering sal die AfriForum Oudtshoorn-tak terugvoer gee oor die huidige veiligheidsituasie in Oudtshoorn, asook die buurtwag se werksaamhede.
Inwoners sal daarna die geleentheid kry om vrae te stel en aangeleenthede van gemeenskapsbelang te bespreek.
Verskeie rolspelers, waaronder die plaaslike polisie, is genooi om die vergadering by te woon en insette te lewer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’