OUDTSHOORN NUUS - Die AfriForum Oudtshoorn se veiligheidsvergadering wat Woensdag 10 Junie plaasgevind het is goed deur rolspelers, organisasies en inwoners bygewoon.
Onder die genooides was senior lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), waaronder die vispolhoof, kol. Winston Kiewiets, die speurhoof, kol. Russel Koeries, en kol. Brendon Moses, bevelvoerder van die operasionele bevelsentrum van die Tuinroete-distrik. Raadslede van wyke 1, 2, 3 en 7 was ook teenwoordig.
Henrico Kumutu, voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) se moederliggaam, en adv. Lisa Cremer van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aan ’n paneelgesprek deelgeneem.
Munisipale wetstoepassing was ’n belangrike besprekingspunt, en inwoners het kommer uitgespreek oor die toepassing van verordeninge, karwagte, die onwettige handel in metaal en die beskadiging van munisipale infrastruktuur.
AfriForum se regs- en risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid, Marnus Kamfer, het as gasspreker opgetree en die rol van gemeenskappe in veiligheidsbestuur beklemtoon.
Donovan Kleinhans, voorsitter van AfriForum Oudtshoorn, het terugvoer oor die buurtwag gelewer en kommer uitgespreek oor die toename in erfbetreding en diefstal. Die betrokkenheid van minderjariges by misdaad en berigte oor ’n beweerde kinderbende, bekend as die ‘Bornas’, is ook bespreek.
Tydens die paneelgesprek het Kiewiets inwoners aangemoedig om klagtes oor die weiering om sake te open, by senior polisielede aan te meld.
Koeries het bevestig dat een van die beweerde gewoontemisdadigers tans voor die hof verskyn, maar het gewaarsku dat ’n tekort aan aanhoudingsfasiliteite daartoe lei dat sommige verdagtes op waarskuwing vrygelaat word.
Moses het voorgestel dat die buurtwag, polisie, speurdiens en aanklaers saamwerk om prioriteitsake doelgerig te dryf.
Cremer het kommerwekkende statistieke gedeel en aangedui dat die aantal oop sake in Oudtshoorn se drie distrikshowe van 360 in 2016 tot 982 toegeneem het, terwyl die aantal aanklaers afgeneem het. Sy het ook beklemtoon dat oorvol korrektiewe fasiliteite groot druk op die regstelsel plaas. Die vergadering het waardevolle samewerking tussen verskillende rolspelers bevorder.
Verskeie opvolggesprekke het reeds plaasgevind om samewerking tussen die betrokke organisasies verder te versterk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’