OUDTSHOORN NUUS - Agri Volmoed het verlede week op 28 April hul twee-maandelikse ledevergadering by Kansa Krale gehou.
Tydens die vergadering het Laubscher Coetzee, wat op die bestuur van Agri Wes-Kaap en Agri SA dien, terugvoering oor kwessies gegee en onder andere oor droogtehulp, gesels.
Hy het boere se samewerking gevra om toe te sien dat droogtehulp by diegene uitkom wat dit broodnodig het aangesien die beskikbaarheid van droogtehulp uiters beperk is.
Die voorsitter van Agri Volmoed, Coetzee Laubscher, het terugvoering gegee oor die projek om kameras op strategiese punte op toegangsroetes na Oudtshoorn op te rig om landelike veiligheid te verbeter.
Volgens hom word die punte waar kameras opgerig word in oorleg met sekerheidsmaatskappye en die polisie bepaal.
Albert Nokole, eerste provinsiale verkeersinspekteur, het boere daarop gewys dat daar ten alle tye voertuie van provinsiale verkeer op toegangsroetes aan diens is, en dat boere hulle ook moet verwittig van voorvalle van verdagte voertuie.
Adjudant-offisier Jan Combrinck, wat gemoeid is met landelike veiligheid, het boere aangemoedig om sake te maak oor alle misdade, ongeag hoe klein dit mag wees. “Dit help die polisie om te bepaal watter areas sogenaamde brandpunte is waarop gekonsentreer moet word,” het hy verduidelik.
Van die boere het egter gesê daar word met ondersoeke gesloer en dat ondersoekbeamptes nie terugvoer gee oor sake wat wel aangemeld word nie.
Kolonel Winston Kiewiets, hoof van sigbare polisiëring in die Groter Oudtshoorn, was ook by die vergadering teenwoordig en het boere die versekering gegee dat voorvalle waar versuim word om terugvoering te gee, dringend aandag sal geniet.
Hy het ook die versekering gegee dat nog personeel beskikbaar gestel sal word om Combrinck by te staan en sy taak te verlig.
Uit die insette van boere het dit duidelik geblyk dat die polisiediens onder groot druk is en dat boere toenemend inisiatief moet neem en moet saamspan om misdaad te bekamp en landelike veiligheid te bevorder.
Na afhandeling van die agendapunte is die drie borge van die aand, Donkerhoek Data, Afrivet en ABE Lubricants se verteenwoordigers, geleentheid gegun om oor hul onderskeie maatskappye te gesels.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’