OUDTSHOORN NUUS - Sekuriteit en veiligheid by Dysselsdorp Sekondêre Skool is tans in die kollig, te midde van 'n toename in dwelmverwante en gewelddadige voorvalle op die terrein.
Volgens George Meyer, voorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) asook voorsitter van die skool se beheerliggaam, is die situasie veral kommerwekkend omdat die skool se heining reeds jare gelede gesteel is.
"Volwassenes betree die terrein en verkoop dwelms aan kinders. Daar was gevalle waar leerders met dagga op die skoolgrond betrap is. Ons het die departement van onderwys herhaaldelik versoek om die heining te herstel, maar nog geen reaksie ontvang nie," sê Meyer.
Hy het verder verduidelik dat gevegte op die skoolterrein soms daartoe lei dat leerders familie of vriende van buite die skool ontbied om betrokke te raak, wat die risiko vir geweld verder verhoog. Verskeie insidente waar buitestanders toegang tot die skool verkry en moeilikheid veroorsaak, is ook aangemeld.
As reaksie op hierdie uitdagings is plaaslike jongmense, verbonde aan die GPF, betrokke by sigbare patrollies by die skool as deel van die polisie se Gemeenskap in Blou-inisiatief. Die projek het ten doel om misdaadvoorkoming te versterk deur gemeenskapsbetrokkenheid en nouer samewerking met die polisie.
WKOD se reaksie
Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD), sê die skool se heining is ernstig beskadig as gevolg van vandalisme. "Die skool het dit by die WKOD aangemeld en die versoek word tans oorweeg. 'n Tydraamwerk is egter nog nie vasgestel nie, aangesien dit van verkrygingsprosesse afhanklik is," het sy gesê.
Sy het benadruk dat die skool reeds stappe geneem het om sekuriteit te verbeter. Dit sluit in die aanstelling van bykomende sekuriteitspersoneel, asook samewerking met die polisie om deursoekings en beslagleggings uit te voer.
Die Gemeenskap in Blou-inisiatief ondersteun ook die skool deur patrollies in die omgewing en monitering van toegangspunte. "Daar is 'n aktiewe strewe na samewerking met die plaaslike gemeenskap om gedeelde eienaarskap en trots in die skool te vestig. Ons is dankbaar vir die ondersteuning van die SAPD en ander rolspelers wat betrokke is," sê Hammond.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’