OUDTSHOORN NUUS - Tydens verlede Donderdag se raadsvergadering was dit duidelik dat die stof rondom die werksessie wat die onlangse regerende ANC-alliansie 'n paar maande gelede in Mosselbaai gaan hou het toe hulle aan bewind was nie, nog nie gaan lê het nie.
Suzane Jansen (PA) en Leon Campher (Advieskantoor) was ook deel van dié alliansie, maar het geweier om dit by te woon omdat hulle oortuig was dat dit onnodige vermorsing van munisipale fondse is.
Dié twee het aangevoer dat die luukse hotelverblyf, petrol en etes te duur na hul sin was en dit as vrugtelose en as verkwistende uitgawes bestempel.
Die huidige burgemeester Chris Macpherson, het hierop gereageer en gesê dat enige ongelukkigheid rondom die kwessie skriftelik aan die speaker gerig moet word.
Sonia Bentley (Good) het op haar beurt gesê dat die raadslede tydens dié werksessie ontsettend baie geleer het. Raadslid Vlancio Donson het Bentley se opinie beaam en gesê dat werksessies van hierdie aard, algemene praktyk is.
Hy het ook daarop gewys dat Kannaland-munisipaliteit op daardie oomblik ook by Sky Hotel in Oudtshoorn was met dieselfde tipe werksessie wat raadslede toerus met kritiese kennis om beter dienslewering onder andere, aan die gemeenskap te verskaf.
Die burgemeesterskomiteelid en hoof van finansies, James du Preez (DA), het aan die raad gesê dat indien daar enige verlore finansiële implikasies is wat gespruit het uit dié werksessie, dit ondersoek moet word, en die volledige verslag aan die raad voorgehou moet word.
Macpherson het toe aan die raad ver-duidelik dat Du Preez net sy departement verdedig en gesê dat hy trots daarop is. Hy het egter 'n uitspraak gemaak dat hierdie kwessie finaal begrawe moet word.
Politieke aanstellings
Jansen noem ook dat sy bewus is dat daar politieke aanstellings in die munisipaliteit is wat steeds werksaam is, ondanks die feit dat hul politieke leiers nie meer in hul sleutelrolle is nie, wat die poste in die eerste plek vir hul moontlik gemaak het.
Jansen beklemtoon dat duisende rande maandeliks vermors word op salarisse van politieke aanstellings wat lankal reeds ongeldig is.
Macpherson beaam Jansen se posisie en verseker die raad dat dit reeds aandag op die hoogste vlak geniet om seker te maak dat dit so gou moontlik stopgesit word en nie weer gebeur nie.
Mosie van vrae
Joey Canary (ANC) se mosie van vrae word aangehoor in verband met raadslid Marcellis Thyse (DA) se foutiewe uitbetaling van R310 811,97 vanaf Junie 2018 tot Oktober 2019 wat hy versuim het om aan te meld.
Thyse het volgens 'n erkenning van skuld-dokument ingestem om die bedrag af te betaal teen 'n koste van R1 500 maandeliks.
Aantygings
Onderburgemeester Mlandeli Nyuka deel die raad mee dat dit aan die lig gekom het dat twee raadslede glo onwettig aangestel is. Nyuka is woedend deur sommige raadslede uitgejou dat hy bewyse moet voorlê om sy aantygings te staaf.
Besoek van departement van menslike nedersetting
'n Delegasie van die departement van menslike nedersettings se staande komitee het Oudtshoorn Dinsdag besoek om die volgende behuisingsaangeleenthede te bespreek.
Bongolethu-konsolidasieprojek
Die projek bestaan uit huiseienaars wat uit die Masakeni-omgewing hervestig is en hulle in 1967 in Bongolethu gevestig het. Hulle het vir hulself huise opgerig deur gebruik te maak van modder, riet, bakstene, ens. 'n Opname is tussen 2009 en 2012 deur die departement van menslike nedersetting gedoen en die lys het bestaan uit:
- 17 erwe wat gesloop is
- 7 leë erwe
- 46 wat herstelwerk kort
- 32 erwe wat geen werk benodig
Verskeie vergaderings is met die begunstigdes gehou en goedkeuring is verleen waarna 'n bedrag van R12 008 830 vir die projek toegeken is. Die fondse is egter onttrek weens begrotingsbeperkings.
Bongolethu 915- en die Matjoks 6602-areas, installering van De Rust-toilette en rioolpype, maatreëls om die toename in informele nedersettings te verminder en die vulling van sleutelposisies in menslike nedersettings is ook bespreek.
'n Navraag is aan die Oudtshoorn-munisipaliteit gestuur vir die bevindinge van dié vergadering.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'