Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Die betonheining wat tussen woonbuurte en die N12 buite Oudtshoorn opgerig is, word gereeld deur mense beskadig en in dele afgebreek.
Die Oudtshoorn Courant het reeds in September 2019 'n navraag aan die provinsiale dpeartement van vervoer gestuur nadat dele van die heining tydens betogings beskadig is.
Alhoewel die navraag deur die departement ontvang is, is daar nooit daarop reageer nie.
Intussen het nog dele in die slag gebly en selfs die deel wat kort voor Kersfees oorkant die begraafplaas en die plakkerskamp langs die gholfbaan opgerig is, is beskadig.
Op sommige plekke is die heining bloot verwoes, maar op ander dele is die vertikale betonpale losgeskroef en verwyder.
Met 'n besoek aan 'n deel van die heining Dinsdagoggend, het 'n inwoner van Rose Valley aan die Oudtshoorn Courant gesê mense verwyder die betonpale om by hulle huise as heiningpale, rande van paadjies en selfs stutte vir bouwerk te gebruik.
"Dit is net soos al die paving paadjies wat die mense in die Lane gesteel het na dit gelê is," het die man gesê.
Een van talle beskadigde gedeeltes van die splinternuwe betonheining langs die N12. Foto's: Hannes Visser.
In reaksie op 'n nuwe navraag het Jandre Bakker, woordvoerder van die departement van vervoer gesê hulle is bewus van die vandalisme, maar dat daarvoor voorsiening gemaak is en dat die beskadigde gedeelte slegs sowat 1% van die totale beplande heining beloop.
Hy noem egter nie wanneer die laaste skade-assesering van die heining gedoen is nie.
Volgens hom dien die heining ten spyte van die beskadigde gedeeltes, steeds 'n funksionele doel om as 'n versperring tussen die pad en die woonbuurte te dien.
Op 'n vraag of dit die koste werd is om met hierdie tipe heining voort te gaan het Bakker gesê dat hierdie heinings op ander plekke geslaagd is en dat dit effens minder vatbaar vir vandalisme is as ander tipes heining.
Kyk 'n video hieronder:
Die heining word oor 'n afstand van 3,9km opgerig waarvan ongeveer die helfte reeds voltooi was. Die koste beloop R750 per meter. Dit beteken die volledige heining, sal by voltooiing, sonder enige herstelwerk R2,925 miljoen beloop.
Aan die einde van die antwoord sê hy dat die departement voorsiening maak vir onderhoudswerk aan die heining en dat hulle steeds van mening is dat die keuse van hierdie tipe beton-pallisade die korrekte keuse was.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'