VAN WYKSDORP NUUS - Die verhoor van drie mans, wat teregstaan op sewe aanklagte van roof met verswarende omstandighede, voertuigdiefstal en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof vir slotargumente tot Junie uitgestel.
Die drie verdagtes, Zuka Martin van Cradock, Liberty Mpala van Kuilsrivier en Melavine Simakade van Langa pleit onskuldig.
Die rooftog het op Vrydag 23 Junie 2017 by die Twaksak Supermark in Van Wyksdorp plaasgevind toe gewapende rowers met George van Tonder se Ford Ranger en hul eie Hyundai-bussie weggejaag het. Van Tonder is met 'n vuurwapen oor die kop geslaan, vasgebind en van meer as R260 000 beroof. Die meeste van die geld is egter teruggevind.
Mpala het verlede week getuig dat hy 'n taxi-eienaar is en gehuur is om mense vanaf Kaapstad na Van Wyksdorp te neem. Hy ontken dat hy betrokke was by die beplanning van die rooftog.
Die saak dien voor streeklanddros Retha Pretorius en is na die kruisondervraging van Mpala vir slotbetoë tot 1 Junie uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'