OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn Vaardigheidskool het Woensdag 25 Junie amptelik van hul geliefde skoolhoof, Gavin Block, tydens 'n spesiale funksie in die skoolsaal, afskeid geneem.
Block was vir 38 jaar en ses maande in die onderwys betrokke. Hy was vir 13 jaar skoolhoof by die Vaardigheidskool, 'n skool wat hom baie na aan die hart lê. Hy het Vrydag 27 Junie amptelik afgetree.
Tydens die toespraak van Paul Amas, het hy na Block verwys as 'n onderwysman by uitstek, akademikus, eggenoot, pa, oupa, sport- en musiekfanatikus en 'n groot filosoof.
"Die grootste geskenk wat die leerders en personeel van die skool u kan gee is om u nalatenskap te laat voortleef - 'Every life leaves a footprint in the sand of time, but the deepest and most lasting impressions are made by those who live with purpose and passion.'"
Block het in 1987 by Bridgton Sekondêr gematrikuleer en het sy onderwysloopbaan ook by die skool begin. Wat min mense weet, is dat hy vlot is in Duits omdat hy dit as vak gehad het én het die land heelwat kere besoek. Hy het in 1996 by Bridgton Sekondêr klaargemaak waarna hy as 'n skoolsielkundige vir 14 jaar by die distrik gewerk het. Tydens die tydperk het hy sy BA(sielkunde) goed toegepas en ook 'n meestersgraad in onderwysbestuur verwerf.
Die skool was vroeër jare bekend as die Klein Karoo Vaardigheidskool. Block het in 2010 begin toe dit nog die ou naam gehad het. Hy was van 2010 tot 2012 as onderhoof en superintendent van die koshuis.
Alsje Schoeman sal vir die volgende drie maande as skoolhoof waarneem waarna Jaco Stevens sal oorneem, hy is tans betrokke by Hoërskool Môrester in Oudtshoorn.
In gesprek met Block noem hy dat hy heel waarskynlik nou aandag gaan gee aan tuisprojekte wat lank nie aandag geniet het nie. Hy gaan nou ook heelwat tyd saam met sy kinders Ilke, Tamlin, Eugene en sy twee kleinseuns, onderskeidelik ses en twee jaar oud spandeer.
"My droom was nog altyd om 'n musiekinstrument te bespeel so ek het nou tyd om daarop te fokus. Ek gaan die skool en die bevrediging wat ek uit opvoeding gekry het baie mis. Die leerders het altyd 'n ekstra spesiale plek by my gehad. My boodskap vir hulle is dat die korrekte ingesteldheid jou baie verder bring as kennis. So glo in jou eie vermoëns en vat kanse. Die Valkie-opvoederspan moet ons korttermynvisie van, Skep geleenthede vir groei, koester en uitbou."
Meer oor Oudtshoorn Vaardigheidskool
Oudtshoorn Vaardigheidskool is op 1 Januarie 2012 gestig. Hul primêre fokus is om leerders toe te rus met die nodige vaardighede, kennis en waardes om die beroepsveld te betree. Die huidige vaardigheidskurrikulum bied opleiding in sweiswerk, messel- en pleisterwerk, onderhoud, gasvryheidstudies, haarkappery, houtwerk en hout.
Die primêre doelwit van die skool is om aan leerders geleenthede te bied om tot hul volle potensiaal te ontwikkel en om uiteindelik onafhanklike landsburgers te word. 'n Noodsaaklike deel van die program is om leerders vanaf hul derde jaar bloot te stel aan werklike werk deur hulle vir ten minste een week per jaar in die werkplek te plaas. Die skool akkommodeer leerders in 'n gebied wat oor die grootste deel van die Klein- sowel as die Sentraal-Karoostreek strek. Ongeveer 'n derde van die leerders is koshuisleerders.
VIDEO: Klik op die skakel vir 'n video oor Gavin Block se loopbaan
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’