OUDTSHOORN NUUS - Personeel van Rosevalley-biblioteek in Oudtshoorn het tesame met lede van die plaaslike polisie, asook leerders van die Oudtshoorn Vaardigheidskool bejaarde dames op Vrouedag bederf.
Die dames se naels is versorg en geverf in die kleur van hul keuse. Na afloop van dié bederf is hulle deur raadslid Dora Moos toegespreek. Bettie Jonk het gesels oor 'Wie is ek as vrou' met die boodskap dat elke vrou gevorm is in die moederskoot en dat God sy plan vir elkeen toe reeds geken het. Sy het vroue aangemoedig om sterk te staan, edel te wees, haar sorge aan God oor te laat en met wysheid leiding as vrou te gee. "Wees lief vir jouself as vrou."
Oudtshoorn Vaardigheidskool
Nadine de Beer van die Vaardigheidskool het aan Oudtshoorn Courant verduidelik dat die kinders dit baie geniet om betrokke te wees in die gemeenskap en dat die tipe uitstappies vir hul 'n geleentheid gee om te voel hoe dit is om in 'n werk te staan.
Oudtshoorn Vaardigheidskool is op 1 Januarie 2012 gestig. Hul primêre fokus is om leerders toe te rus met die nodige vaardighede, kennis en waardes om die beroepsveld te betree. Die huidige vaardigheidskurrikulum bied opleiding in sweiswerk, messel- en pleisterwerk, onderhoud, gasvryheidstudies, haarkappery, houtwerk en hout. Die primêre doelwit van die skool is om aan leerders geleenthede te bied om tot hul volle potensiaal te ontwikkel en om uiteindelik onafhanklike landsburgers te word. 'n Noodsaaklike deel van die program is om leerders vanaf hul derde jaar bloot te stel aan werklike werk deur hulle vir ten minste een week per jaar in die werkplek te plaas. Die skool akkommodeer leerders in 'n gebied wat oor die grootste deel van die Klein- sowel as die Sentraal-Karoostreek strek. Ongeveer 'n derde van die leerders is koshuisleerders.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’