OUDTSHOORN NUUS - Danksy 'n projek van die KKNK kry jong swart en bruin vroue van Oudtshoorn ’n unieke kans om met jong opkomende sterre en leiers in Brittanje te skakel.
Dié aanlyn projek word aangepak in vennootskap met die Britse Raad in Suid-Afrika.
Volgens 'n verklaring van die KKNK sal die vroue deur hierdie opwindende projek belangrike kwessies en invloede in hul onderskeie gemeenskappe ondersoek, oop gesprekke oor die lewe voer, idees verken, gedagtes stimuleer en met die wêreld kan skakel.
Die ander vennoot in dié projek is Empatheatre as deel van die Britse Raad se Developing Inclusive and Creative Economies-program (DICE) en met die samewerking van die SICK!-fees en die kunste-organisasie Young Identity, albei in Manchester, Engeland.
“Ons is op soek na selfversekerde, nuuskierige, skeppende en energieke deelnemers,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK. “Ons nooi leiers, denkers, dromers en storievertellers van Oudtshoorn, om deel te neem aan hierdie aanlyn werksessie en gesprekke. Dit vind plaas in April en Mei 2021.”
Drie deelnemers van Oudtshoorn sal gekies word om deel te neem aan die program, wat sal bestaan uit digitale ervarings en werksessies wat gefasiliteer sal word deur Britse en Suid-Afrikaanse kreatiewes. “Die projek is ’n springplank vir kulturele samewerking op die langtermyn tussen die vennote, met die stemme van jong vroulike leiers as die middelpunt,” sê Theart.
Belangstellendes moet 'n video van drie tot vier minute voorlê waarin die aansoeker haarself op enige kreatiewe wyse uitdruk. Dit kan by wyse van 'n vertelling, drama, dans, musiek of selfs 'n gedig wees.
Die program is gerig op swart en bruin vroue tussen die ouderdom van 18 en 35 en aansoekers moet in Oudtshoorn woonagtig wees.
Om deel te neem
Stuur die video via WhatsApp of Telegram na 089 789 4657 of per WeTransfer na shandre@kunste.org.za. Die sluitingsdatum is Vrydag 26 Maart 2021. 'n Selnommer en e-pos-adres moet ingesluit wees by die video.
"As jy nie binne ’n dag bevestiging kry dat jou video ontvang is nie, of as jy nie jou video kan opneem of stuur nie, bel Shandré Harris by die KKNK-kantoor by 044 203 8600. Jy kan ook met haar ’n afspraak maak dat jou video by die KKNK-kantoor by Jan van Riebeeckweg 217, Oudtshoorn, opgeneem word," sê Theart
Suksesvolle kandidate sal ’n geldelike bydrae ontvang om te kan deelneem aan die program. ’n Verwysingsbrief sal aan die einde van die projek aan elke deelnemer gegee word. Kandidate sal toegerus word met die nodige steun en tegnologie om hulle in staat te stel om aan al die sessies deel te neem.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'