OUDTSHOORN NUUS - George van Biljon tree na 32 jaar diens by die Stompdrift-Kamanassie Watergebruikersvereni-ging (SKWGV) uit diens.
Hy was die uitvoerende beampte van die Kamanassie-besproeiingsraad en was verantwoordelik vir die waterverspreiding, bestuur en onderhoud van die Stompdrift- en Kamanassiedam. Hy was ook verantwoordelik vir die kanale tussen De Rust tot amper in Calitzdorp.
Van Biljon het Woensdag tydens sy afskeidsgeselligheid by Nostalgie, gesê hy het op 2 Januarie 1986 by die besproeiingsraad begin.
"Jan Westenraad het my die oggend voor die kantoor ontmoet en die sleutel van die kantoor aan my oorhandig. Binne 'n maand na my begin het Stompdriftdam oorgeloop. Op daardie stadium het ek nog basies niks geweet van hoe reëls en regulasies werk nie."
"'n Belangrike reël bepaal dat geen water beskikbaar in riviere onder beide damme, in die kanale van die raad ingedraai mag word alvorens alle slote stroomaf van die damme vol water is nie. Die Stompdriftdam het 'n paar uur oorgeloop toe word ek deur 'n eienaar geskakel om van die water wat oor die damwal loop, in die kanaal in te draai sodat stroomaf laagwater brûe bruikbaar kan wees."
"Nie baie lank nadat ek die water in die kanaal laat indraai het nie, word ek deur 'n eienaar wat kilometers verder stroomaf woon, geskakel en behoorlik geroskam oor my onwettige optrede en dat ek onmiddellik die water moet terugsit in die rivier omdat daar nog geen water in die onderste slote is nie," het hy vertel.
Van Biljon sê hy het bitter vinnig geleer dat daar geen manier is om almal tevrede te stel nie.
"Jy poog om so ver moontlik, die meerderheid tevrede te hou."
Riaan Krüger het op 1 Augustus die pos as nuwe uitvoerende beampte oorgeneem.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'