OUDTSHOORN NUUS - Die volstruisbedryf is opnuut in die moeilikheid.
Hierdie keer nie weens die H5N8-voëlgriepvirus nie, maar weens die Europese Unie (EU) se kommer oor die monitering van residu in voedsel van dierlike oorsprong, insluitend volstruis-, krokodil- en wildsvleis.
Op grond van die EU se bekommernis sou daar 'n algehele verbod geplaas word op die uitvoer van vleis insluitend volstruisvleis.
Die verbod sal ook die uitvoer van gaar vleis tot 'n einde bring.
Die EU se kommer is gebaseer op die uitkoms van 'n oudit wat in Februarie 2017 gedoen is by instansies wat verantwoordelik is vir die monitering van residu.
Die Europese Unie het pas die ouditverslag oor die nasionale residu-moniteringsprogram bekend gemaak.
Die doelwit van die oudit is om seker te maak dat die toetsing van diere en diereprodukte voldoende is om te verseker dat geen residu in diereprodukte voorkom nie, maar voldoen aan die EU se gesondheidsvereistes.
Hierdie residu sluit veeartsenykundige middels, onkruid- en plaagbeheermiddels en bymiddels tot dierevoeding in.
Die beheer oor veeartsenykundige middels en byvoeding is ook by die oudit ingesluit omdat dit 'n rol speel in die teenwoordigheid van residu kan hê.
Volgens die ouditverslag is die beplanning, toetsing en opvolgaktiwiteite wat by die nasionale residu-moniteringsprogram ingesluit word, grotendeels voldoende, maar daar is tekortkominge in die stelsel wat die betroubaarheid van waarborge vir die residu-status van diereprodukte in twyfel trek.
Die tekortkominge sluit die gebruik van onvanpaste analitiese metodes, die versuim om al die monsters betyds te toets, en die versuim om vir sekere middels te toets.
Die nasionale residu-moniteringsprogram (RMP) is die verantwoordelikheid van die departement van landbou, bosbou en Visserye (DAFF) se hooflaboratorium by Onderstepoort buite Pretoria, en twee ander geakkrediteerde laboratoriums, waarvan een die SA Buro van Standaarde (SABS) is; laasgenoemde se stelsel is in plek.
"Ons beskou die korrespondensie in 'n baie ernstige lig," sê dr. Adriaan Olivier, veearts by die Suid-Afrikaanse Volstruis Besigheidskamer (SAVBK).
"Tans lyk dit asof 'n verbod gebaseer is op tegniese besonderhede van die RMP.
"Die SAVBK, krokodil- en wildbedryf, werk nou saam met DAFF om te verseker dat aan alle vereistes voldoen word om te verseker dat unieke Suid-Afrikaanse produkte steeds uitgevoer kan word."
SAVBK en DAFF is aktief in dialoog met verteenwoordigers van die EU, wat in Pretoria gesetel is, om 'n manier te vind om voort te gaan met uitvoere terwyl die probleem met gebrekkige residu-monitering opgelos word.
"Hierdie stappe is noodsaaklik om te verhoed dat die Suid-Afrikaanse landbougemeenskap verder negatief beïnvloed word en dat hierdie negatiewe invloed uitkring na die sosio-ekonomiese situasie in landelike gebiede."
Lees 'n verwante artikel: Uitvoer van rou volstruisvleis verbied
ARTIKEL: TISHA STEYN, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'