OUDTSHOORN NUUS - Van jazz en pop tot klassiek en kontemporêr met ’n ope-lug-skouspel of twee - die KKNK bied vanjaar al die musiek-ietse, vir elke smaak.
Die KKNK vind van 1 tot 6 April plaas.
Eerste en laaste konserte
’n Spesiale openingskonsert en aandmark word Maandag 31 Maart aangebied.
Judith Sephuma, Demi Lee Moore, Frank Opperman, Die Heuwels Fantasties, Lynelle Kenned, Timothy Moloi, die Charl du Plessis Trio, Mauritz Lotz en ’n simfonieorkes, onder leiding van Richard Cock, skop die fees af met die Openingskonsert met al die ietse.
Uiteenlopende musiekgenres word ingesluit. Nataniël sluit Sondag 6 April verrigtinge af met ’n skouspelagtige konsert, Duif.
Saam met hom op die verhoog is Tracey-Lee Oliver, Wiehahn Francke, Nicolaas Swart, Dihan Slabbert, Jordan Rogers, Tamia Stanczyk, Charl du Plessis, Juan Oosthuizen, Werner Spies en Peter Auret.
Debuutproduksies
• Coenie de Villiers en Rocco de Villiers deel vir die eerste keer die verhoog in 88. Daar is ou treffers wat spog met vars vertolkings, nuwe komposisies wat spesifiek vir hierdie produksie geskryf is, en splinternuwe woordkuns uit die penne van albei kunstenaars.
• Die Charl du Plessis Trio vertolk vir die eerste keer musiek van The Beatles in Bach & Beatles.
Openingskonsert met al die ietse by KKNK 2025.beHOORNlik
beHOORNlik, ’n multidissiplinêre tentoonstelling van plaaslike kunstenaars met Haidee Muller, John Theodore, Paul Amas, Danny B, Kezia Swarts, MC Noemwoord, B-Boy Da-Vinci, Janine Fourie, Willo en Jenny Maya, Frederico, JESSICA en ander.
beHOORNlik by KKNK 2025.
Ander musiekproduksies
• In Blues by die kruispad vertel Christiaan Rabie, Nelmarie Rabie, Marcel Dednam, Deryn Dednam, Werner Spies en Peter Auret die legendariese verhaal van Robert Johnson by die Crossroads.
• Corneille Hutten en Christiaan Jacobsz, oftewel CH2, bring ’n interessante mengelmoes van die flamenco van Spanje.
• Danie Reënwolf du Toit en sy pa, Johan du Toit, is te sien in ’n splinternuwe vertoning, Songs, stories en gedigte.
• Die gevlerktes bring twee gesoute kunstenaars bymekaar vir ’n buitengewone produksie wat ’n lewende uitvoering en animasierolprentkuns kombineer. Diek Grobler het vier nuwe kortflieks in reaksie op werke vir solo-klavier geïnspireer deur voëls. Vier klavierwerke word deur Mareli Stolp uitgevoer.
• Blackie Swart, Thean Kotze, Leon Ecroignard, Wouter van de Venter, Mathys Roets en Mel Botes is saam terug op die verhoog vir Die Ses Snare van ouds. Die groep speel na baie jare weer by die KKNK - hierdie keer met die oorspronklike groep wat destyds in 2009 vir die eerste keer by die KKNK opgetree het.
• Goue Boere, silwer tango is ’n boeiende musiekervaring wat die verrassende verbintenisse tussen boeremusiek en die Argentynse tango ondersoek. Met Nicole Holm, Leon Oosthuizen, Alberto Otero, Silvia Otero en Skhumbuzo Mhlauli, wat die klanke van Afrikaanse volksmusiek vervleg met die passievolle melodieë van Argentynse tango, in ’n unieke kulturele samewerking.
• Leslie Kleinsmith deel in Kaapse Kabaret 2.0 die verhoog met Ramon Alexander, Dylan Tabisher en Annemie Nel.
• Elzabé Zietsman het Johann Slabbert gevra om ’n kabaret te skryf waarmee sy kan hulde bring aan David Kramer se liedjies. Sy deel die verhoog met Schwartz en Tony Bentel, onder regie van André Odendaal.
• Twee van Suid-Afrika se voorste en hoog aangeskrewe instrumentale groepe, die Soweto String Quartet en ULTRACOUSTIC span kragte en kreatiwiteit saam vir Klassiek en kwêla tot tango en techno.
• Wynand Strydom bring in Koos Doep hulde aan wyle Koos du Plessis, soos hy in die volksmond bekend staan, wat in 2025 sy 80ste verjaarsdag sou gevier het. Chanie Jonker sluit op die klavier by hom aan.
Ander musiek-ietse:
Verskeie gunstelingsangers is daagliks te sien op die Feesmark- en Castle Lager-verhoog in die Feesmark, die KKNK se feesterrein. Sien uit na onder andere Die Heuwels Fantasties, Emo Adams & Take Note, Demi Lee Moore, Snotkop, BlackByrd, Bobby van Jaarsveld, Kurt Darren, Refentse en kunstenaars soos Booshle G. en Irene-Louise van Wyk wat vir die eerste keer by die KKNK te sien is.
Goue Boere, silwer tango by KKNK 2025.
Program en kaartjies
Die volledige program vir die 29ste KKNK, geborg deur Absa, is aanlyn beskikbaar by kknk.co.za.
Kaartjies is te koop by Webtickets of die KKNK se kantoor. Vir meer inligting, besoek kknk.co.za of kontak 044 203 8600, info@kknk.co.za of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’