OUDTSHOORN NUUS - Die eerste SA Sinode musiek- en danskonferensie van die United Congregational Church of Southern Africa (UCCSA) is met groot sukses in Oudtshoorn aangebied.
Afgevaardigdes van Algoa, Gordonia, Kei, Karoo, Noordwes, KwaZuluNatal en Outeniqua het die konferensie bygewoon wat deur die Outeniqua-streek aangebied en Sondag met ‘n optog en dankseggingsdiens in die Bridgton United Congregational Church afgesluit is.
Een van die naweek se hoogtepunte was Saterdag-aand se Evening of Music and Dance in die Toekomsrus United Congregational Church. Tydens Sondag se diens het die SA Sinodekoor bestaande uit die koorlede van die agt streke, twee liedere gelewer wat hulle tydens die konferensie aangeleer het.
‘n Groep dansers van alle ouderdomme, het ‘n geestelike dansitem geleer wat ook oor die naweek aangeleer is terwyl die kerk se brigade-orkes en junior koor ook items gelewer het. Die moderator van die Outeniquastreek, ds. Derick Andries van GrootBrakrivier, het in sy boodskap ‘n beroep op die konferensiegangers gedoen om dit wat hulle vir die Here doen met ‘n glimlag te doen.
“Jy kan nie die Here met ‘n suurgesig dien nie. Glimlag. Dit trek mense nader. Tye het verander en ons kan nie meer aan die ou tradisies van oupa en ouma vasklou nie. Die kerk is aan die beweeg en niemand gaan ons stop nie,” het Andries gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’