LADISMITH NUUS - Vir Marlene Smile van die informele nedersetting, Varkieskloof, in Ladismith was 9 Junie toe 'n rukwind die nedersetting getref het, 'n dag wat sy eerder wil vergeet.
"Ek kon nie slaap nie,die wind was baie erg,hy het my hokkie agtertoe en vorentoe begin beweeg. My kinders het gelê en slaap en toe gryp die wind my hok en sit hom vyf meter verder neer."
Nog 'n slagoffer van die wind, Irvine Smith (56) sê hy het 'n opslaanhut by iemand gehuur en drie weke voor die stormwind nuwe balke en plate gekoop om die woonplek te verbeter. "Die wind het my plate afgeruk en onbruikbaar opgefrommel.Ek weet nie hoe gaan ek dit nou weer herbou nie..die lewe is duur."
Die munisipaliteit het verskeie mense wat deur die wind haweloos gelaat is, in die gemeenskapsaal in tentjies gehuisves. Met die media se besoek aan die saal was Reynold Stevens, munisipale bestuurder van Kannaland en Magdalene Barry, burgemeester, ook daar.
Stevens het genoem dat die haweloses van Varkieskloof binnekort basiese materiaal sal ontvang om weer blyplekke op te slaan. Volgens hom behels die materiaal voldoende houtbalke en en sinkplate om stewige hutte te bou.
"Die munisipaliteit van Kannaland wag net dat die regering `n diensverskaffer aanstel," het Stevens verduidelik.
Op haar beurt het Barry onderneem om die inwoners se verblyf in die saal so kort as moontlik te hou en te verseker dat hulle kan uitsien na beter omstandighede. Die Munisipaliteit verskaf daagliks maaltye aan die haweloses,wat voorberei word deur verskillende tenderaars. Die plaaslike motorklub, Jap Metal, het ook ingespring en voorbereide voedsel verskaf. Die haweloses se persoonlike besittings wat na die stormwind gered kon word, word ook in die saal gestoor. Die buurtwag patrolleer die omgewing gereeld om veiligheid te verseker.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'