OUDTSHOORN NUUS - Die oorspronklike Engelse meganiese toringhorlosie van die CP Nel-museum word tans deur Rudi Conradie en Kyle van der Byl van A Clock Affair gediens.
Sodra die instandhoudingswerk afgehandel is, behoort die klok weer akkuraat tyd te hou en op die vasgestelde tye te lui.
Die klok en toringhorlosie is in 1907 uit Engeland ingevoer en spog met 'n meganisme wat beide die tyd op die wyserplaat aandui en 'n klok lui om die ure aan te kondig.
Die toring is in 1908 geïnstalleer toe die gebou nog die Oudtshoorn Boys' High School gehuisves het en die klok is deur G.C. Olivier (Gert), 'n bekende Oudtshoornse sakeman en filantroop, aan die destydse skool geskenk.
Die oorspronklike gedenkplaat in die kloktoring bevestig die skenking en dra die inskripsie: The Clock in this Tower was presented by G.C. Olivier, Esquire. MDCCCCVII.
Die toringhorlosie is deur J.W. Benson van Ludgate Hill in Londen vervaardig.
Die maatskappy, wat in 1847 gestig is, was een van Brittanje se voorste vervaardigers van toringhorlosies, sakhorlosies en mariene chronometers.
Die onderneming het 'n koninklike waarborg gedra en is as 'Clockmaker to the Queen & Prince of Wales' aangewys, 'n gesogte erkenning van uitstaande vakmanskap en gehalte.
Instandhoudingswerk
Volgens Conradie is die meganisme van die toringhorlosie oor die algemeen in 'n goeie toestand. Hy sê die verkeerde smeermiddels is egter op verskeie plekke gebruik, met die gevolg dat die olie met verloop van tyd verhard het.
"Uit foto's en video's was dit ook duidelik dat daar olie op die ratte aangebring is.
CP Nel-museum se klok het nie die tradisionele klokvorm nie, wat dit meer uniek maak. Foto's: Louise Mouton | Die J.W. Benson-kloktoringmeganisme wat reeds meer as honderd jaar oud is. |
"Dit behoort nooit gedoen te word nie, aangesien dit stof aantrek en onnodige slytasie veroorsaak. Die meganisme sal volledig uitmekaar gehaal word sodat elke onderdeel deeglik skoongemaak en geïnspekteer kan word," sê hy.
Hy sê dat die klok teen Sondag 12 Julie herstel sal wees waarna hy daagliks sal lui.
"Die klok speel die bekende Westminster Quarters, 'n ikoniese 16-noot melodie wat wêreldwyd op staanhorlosies, kerktorings en die beroemde Big Ben in die Elizabeth-toring in Londen gehoor kan word."
Die melodie is oorspronklik in 1793 vir die St. Mary the Great-kerk in Cambridge gekomponeer. Dit word progressief opgebou: vier note speel met die eerste kwartier, agt met die halfuur, twaalf met die derde kwartier en die volledige 16-note melodie op die uur. Daarna volg die slaan van die uurklok.
Volgens Conradie is dit ook duidelik dat die meganismes van die vier ratkaste wat die horlosie se wysers aandryf, lanklaas gediens is. "Dieselfde proses sal met hierdie ratkaste gevolg word. Hulle sal uitmekaar gehaal, skoongemaak en weer met die korrekte smeermiddels gesmeer word om te verseker dat die horlosie weer betroubaar funksioneer," sê hy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’

