OUDTSHOORN NUUS - Op die dag wat wyle Adam ‘Meester Ampie’ Wicomb sy 105de verjaardag sou vier het sy kinders op Saterdag 20 Desember 2025 sy tweede boek van wyshede, ‘Krummeltjies’, tydens ‘n spesiale geleentheid in die kerksaal van die Weyers Memorial United Congregational Kerk bekend gestel.
Die boek bevat net soos die een wat hy in 2004 bekend gestel het, “Liefdesdruppels” wyshede vir elke dag van die jaar. Wicomb is op 19 Augustus 2023 op 103-jarige ouderdom oorlede,
Een van sy vyf dogters, Cathy, het tydens die bekendstelling vertel dat haar pa nog tot op sy sterfbed wyshede neergepen het al was dit nie meer so duidelik nie.
Sy het voorts vertel dat haar pa nooit sonder ‘n skryfboek en pen of potlood slaapkamer toe gegaan het nie omdat hy, wanneeer hy ‘n boodskap kry wakker skrik en skryf.
Tydens die bekendstelling het Daryll Rondganger ook ‘n gedig wat Wicomb vir die 21ste verjaardag van die kerk in 2006 geskryf en deur John Theodore getoonset is, gesing.
Ds Nathalie Moos het in ‘n kort boodskap en inseëning van die boek hulde gebring aan Wicomb wat nederig gebly en almal met wie hy in aanraking gekom het spesiaal laat voel het.
Persone wat belangstel om ‘Krummeltjeis’ te bekom kan Cathy Wicomb by 063 798 0453 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’