DYSSELSDORP NUUS - Die saak teen twee mans van Dysselsdorp wat van roof met verswarende omstandighede en diefstal aangekla word, is in die streekhof vir uitspraak tot Meimaand uitgestel.
Melvin Davids (31) en Hendrik Malgas (38) word daarvan aangekla dat hulle op 13 Oktober 2018 'n dertienjarige meisie met 'n panga gedreig en van haar musiekboks ter waarde van R250 beroof het, en ook twee dakplate ter waarde van R200 van Magdalyna Jaftha gesteel het.
Albei ontken skuld. Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof gevra om die twee op albei klagtes skuldig te bevind omdat dit duidelik is dat hulle beplan het om die kind te beroof.
Die kind het ook geen rede gehad om 'n saak te maak indien sy nie beroof was nie.Hul regshulpprokureur, Wenzel Botha, sê egter die staat maak staat op omstandigheidsgetuienis en dat geen bewyse voor die hof is om die twee skuldig te bevind nie.
Volgens Botha is dit onwaarskynlik dat twee volwasse mans 'n dertienjarige kind met 'n panga sal dreig om haar musiekboks af te neem. Dit is ook onwaarskynlik dat 'n kind van dertien sal gaan soek na twee mans met 'n 60cm lange panga waarmee sy glo gedreig is.
Oor waarom die kind gehuil het voer Botha aan dat dit is omdat sy vir die polisie gejok het.
Die uitkenning van die twee dakplate deur die klaer is volgens Botha ook hoogs twyfelagtig.
"Die staat het nie bo redelike twyfel bewys dat die plate van die klaer gesteel is nie." Die saak dien voor streeklanddros Retha Pretorius en is vir uitspraak tot 20 Mei uitgestel.
Davids en Malgas bly in aanhouding.
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'